Na ’n indrukwekkende optrede by die Afrikaans Oppi Platteland-fees se Nuwe Talent-kompetisie, het die talentvolle Venter as wenner uit die stryd getree en daarmee saam ’n gesogte platekontrak met Select Musiek losgeslaan. Nou is dié nuwe ster reg om sy eerste enkelsnit aan die wêreld bekend te stel – ’n herverwerking van Theuns Jordaan se hartroerende ballade, “Deur Die Winters.”
Venter het die liedjie tydens die kompetisie vertolk, en sy sielvolle interpretasie het beide die beoordelaars en die gehoor diep geraak. Die warm ontvangs van die publiek het bevestig dat hy ’n kunstenaar is om dop te hou. Sy weergawe van die liedjie sal vanaf 11 April beskikbaar wees op alle digitale platforms, tesame met ’n splinternuwe musiekvideo.
“Dit is vir my ’n groot voorreg om ’n cover te doen van so ’n groot legende soos Theuns Jordaan,” sê Venter met dankbaarheid. “Ek hoop dat mense aanklank sal vind met my weergawe en die nostalgie van die liedjie, maar ook nuwe klanke sal verwelkom. Ek hoop Oom Theuns sal trots wees.”
Hoewel hy nou eers sy debuutenkelsnit vrystel, is Venter geen nuweling op die verhoog nie. Hy toer reeds landwyd met sy vertonings en is besig om aan oorspronklike musiek te werk wat later vanjaar bekendgestel sal word. Dié talentvolle sanger kombineer rou emosie, Afrikaanse storievertelling en vars energie – en dis duidelik waarom hy die Nuwe Talent-kroon verower het.
Kyk die musiekvideo hier:
Met sy voete stewig op die plattelandse grond en sy oë op die sterre, begin Venter nou sy reis as opkomende Afrikaanse sanger. Die toekoms lyk blink vir dié belowende stem – en ons kan nie wag om te hoor wat volg ná “Deur Die Winters” nie.

