Leah het lankal reeds Afrikaanse musiekliefhebbers se harte oorwin met treffers soos Met Jou Klere Aan, Volmaan, Ek Like Jou, en meer. Die blondekop sangeres, aktrise en TV-aanbieder het al ’n paar keer verklap dat sy meestal ballades wil sing en dit is hoe haar nuutste enkelsnit Aanhou gebore is.
“Ek hou daarvan om my energieke kant op die verhoog uit te leef, maar ek is ook ’n diep mens, so ek probeer maar altyd om ’n balans te vind tussen die twee,” sê Leah.
“Verhoudings is nie altyd maanskyn en rose nie,” vertel Leah verder, en hierdie opregte liedjie delf diep in die kompleksiteite van verhoudings. Die liedjie ondersoek die stryd wat paartjies ervaar en die blywende krag van liefde om dit te oorkom.
Aanhou is ’n weerspieëling van die op- en afdraandes wat ons almal in verhoudings ervaar. Dit gaan daaroor om elke dag liefde te kies, ten spyte van die uitdagings. Mag luisteraars vertroosting en krag in die boodskap vind.
“Ek het saam met Roux Cloete gesit nadat hy Aanhou geskryf het. In die eerste twee lyne het ek dadelik gesê, ek weet hoe dit voel. Ek is in ’n baie gelukkige huwelik, maar soms sit mens vas, dit eskaleer en later weet jy nie eens meer waaroor jy oorspronklik baklei het nie. Die punt is wel dat jy altyd sal aanhou baklei vir jou ander helfte, die persoon vir wie jy liefhet, in wie jy glo, saam met wie jy die pad wil stap. Jy sal aanhou veg, aanhou liefhê, aanhou werk.”
- Aanhou is nou op alle stroomdienste beskikbaar.
Kyk die musiekvideo hier:

