Franja du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde musikale talente, stel haar splinternuwe enkelsnit Lisensie op 14 Junie 2024 digitaal vry. Geïnspireer deur haar passie vir dans, en veral langarm, is Lisensie gereed om dansvloere regoor die land aan die brand te dans hierdie winter.
“Dans maak my gelukkig en as ’n man kan langarm soos my Pa, nog beter,” sê Franja oor die inspirasie agter die liedjie. “Dit is eintlik die minder lekker langarm uitstappies wat tot die liedjie gelei het. Wys eers jou ‘lisensie’ dat ek kan sien of jy kan dans voor jy my vir ’n draai kan vat,” vertel sy laggend.
Dié pop/sokkie-treffer is geskryf deur Franja self en vervaardig deur die meesterlike Murray Lubbe. Hierdie snit beloof om ’n aansteeklike ritme en bekende klank te hê wat aanhangers se voete laat jeuk om te dans. Nadat Franja ’n stukkie van twee opsies vir liedjies op sosiale media gelaai het, het aanhangers vinnig laat weet dat Lisensie hul gunsteling is. “Ek is bly Lisensie was die gunsteling – hy het ’n lekker bekende klank en die ritme is aansteeklik,” sê Franja.
Die musiekvideo vir Lisensie is vervaardig deur Gerduan Kemp en bied ’n unieke blik op Franja. Die storielyn handel oor ’n drieman orkes se voertuig wat onklaar raak en hulle hoor van ’n herstelwerkplek in Pretoria waar meisies werk om hom reg te maak. Die res van die storie sal kykers moet wag en sien wanneer die video op 14 Junie bekendgestel word.
Kyk die musiekvideo hier:
Lisensie is die derde enkelsnit vanaf haar opkomende album wat begin 2025 verwag word. Franja, ’n boffin in die musiekateljee, speel sewe musiekinstrumente en het reeds talle toekennings agter haar naam. Sy is in 2017 as Nuweling van die Jaar en Vroulike Kunstenaar van die Jaar by die Ghoema-toekennings bekroon. Met meer as 50 miljoen strome tot op hede, insluitend platinumstatus vir haar enkelsnit Bring Dit en haar debuutalbum My Verhaal, is Franja du Plessis ’n krag om mee rekening te hou in die musiekbedryf.
Moenie hierdie opwindende vrystelling misloop nie! Lisensie en die gepaardgaande musiekvideo sal vanaf 14 Junie 2024 op alle digitale platforms beskikbaar wees. Maak seker dat jy jou dansskoene reg het en bereid is om hierdie winter die dansvloere warm te dans!

