Site icon Afrikaanse Musieknuus

Rooksein roer hartsnare met nuwe snit!

FOTO: Verskaf

Rooksein (Dian Maritz, Megan Danner en Renier van der Westhuizen) is besig om die musiekbedryf behoorlik op horings te neem. Kyk Na My Hart, Damlelielief en Genade Nader het van dié groep ’n huishoudelike naam gemaak.

LEES OOK: Rooksein is terug met ’n nuwe enkelsnit en musiekvideo

En nou is Rooksein terug met hul nuwe enkelsnit Kind van die Wind vanaf hul opkomende album Die Onbekende. Dié enkelsnit beloof om die hartsnare te roer… 

“Hierdie is net een van daardie liedjies waar die woorde eintlik meer beteken as die melodie en die musiek agter die woorde self. Kind Van Die Wind is nie net vir ons geskryf nie, maar ook vir almal daar buite. Sonder twyfel is die emosies in hierdie liedjie iets wat soveel van ons al moes deel en weer eens wil ons graag die liedjie gebruik om vir mense te sê en te wys hulle is nie alleen nie,” het Renier gesê. 

Rooksein glo en vertrou dat die publiek van Kind Van Die Wind sal hou.

“Ons glo die liedjie dra ’n sterk betekenis en doel. Ons hoop dat dit vir verskeie mense ’n verskil kan maak, die liedjie is baie verwant en daarom hoop ons die publiek ontvang dit goed,” het Dian verder verduidelik. 

’n Groot verrassing in hierdie liedjie is dat Dian Maritz vir die eerste keer sy eie hoofvers sing. Dit bring absoluut ’n ander dinamika navore, wat die publiek nog nie by Rooksein gehoor het nie.

Rooksein se opkomende album Die Onbekende kan nou vooraf bygevoeg word op digitale platforms.

Die album sal bestaan uit elf oorspronklike liedjies wat geskryf is uit hierdie drie talentvolle kunstenaars se eie penne en sal vanaf 11 November 2022 beskikbaar wees.

Rooksein se doel is nie net om musiek te maak nie, maar eerder musiek te maak wat iets beteken en wat ’n verskil kan maak.

Exit mobile version