FOTO: Verskaf
Na die reuse sukses van Kyk Na My Hart wat spog met meer as 1.5 miljoen YouTube kykbeurt in slegs agt maande en van vrystelling af steeds in Apple Music se Afrikaanse Top-20 ranglys is, sowel as Maroela Media se Top-20, is die talentvolle Rooksein terug met ’n splinternuwe enkelsnit en musiekvideo.
Die nuwe liedjie Damlelielief is ’n liefdesliedjie met ’n kinkel. Hierdie liedjie gaan oor mense in ’n verhouding, maar nie jou gemiddelde verhouding nie. Dinge is pret, mooi en altyd interessant. Daar kom wel ’n kinkel in die kabel waar daar soos met enige verhouding teespoed kom wat dan ’n groot besluit verg oor hoe om voorentoe te gaan. Dit is die een persoon se manier om te sê: Maak nie saak wat nie hy/sy sal altyd aanhou veg vir wat hulle het.
Damlelielief se bestaan was beslis ’n spanpoging, die meerderheid van die liedjie is geskryf deur Renier, maar die afronding daarvan is saam met Dian en Megan gedoen en die woord Damlelielief kom van Megan se vriendin Danele Zeeman af. Dit het alles begin by ’n woord wat Renier geïnspireer het.
“So baie kan kom van die regte woord af. Die woord was baie spesiaal en ek wou graag iets memorable daarmee skep. Ek het toe gegaan en gaan dink hoe kan ek hierdie baie basic hou, maar steeds so baie daarmee sê. Toe die koor klaar was het die res van die liedjie homself geskryf. Hierdie liedjie kom wel al van die begin van die band in 2018 af en ek het elke jaar verder aan dit geskryf sonder enige druk om ’n hit te probeer forseer, maar ek het dit eerder tyd gegee sodat dit self regkom en ons dit kon gebruik op die tyd waar ons dit nodig gehad het,” vertel Renier West.
Die musiekvideo bewys net weer hoe talentvol Christian Wolf is en hoe goed hy en Rooksein saamwerk. Vir hierdie musiekvideo het hulle besluit op ’n performance video. Die video is in die middel van die winter in ’n woud geskiet met verkeie aspekte soos rook en ligte wat geprogrammeer was om ’n onbeskryflike atmosfeer te skep.
Kyk die musiekvideo hier:
Rooksein hoop en vertrou dat die publiek Damlelielief sal geniet en dit hulle eie sal maak. Hulle glo vas die liedjie het al die nodige komponente om baie goed te doen en daarom hoop hulle dat die publiek net so baie daarvan sal hou soos wat hulle daarvan hou.
- Laai die liedjie nou op digitale musiekplatforms af.

