FOTO: Verskaf
Is jou ore reg vir ’n seevakansie? Atlantiseers, die Afrikaanse indie-groep van Johannesburg, gee nie om of jy reg is nie: Die groep se eerste enkelsnit, Desember my nou, vervoer jou onmiddellik na die strandhuis waar jy eintlik al heeljaar wou wees.
Dié enkelsnit, wat saam met Bouwer Bosch opgeneem is, vang die sonskyn en sorgvrye dae van Desembermaand in klank vas – en natuurlik is daar ook sprake van ’n vakansieromanse, want geen Desember is ’n regte Desember sonder ’n vry in die duine nie.
Adrio van der Walt, die sanger en liedjieskrywer wat Atlantiseers se voorman is, wou met Desember my nou ’n liedjie skep waarin mens die pret en gees van die vakansie kan hoor én voel.
“Verlede jaar, toe dit begin somer raak en die aande al warmer, het ek na die see verlang, en hierdie melodie het een aand in my kop begin speel. Ek het dadelik voor die klavier gaan sit en dit op my foon opgeneem. Die liedjie vier nuwe liefde in die wonderlike Suid-Afrkaanse somer. Die paartjie in die liedjie ontsnap uit die stad en gee hulleself oor aan als wat Desember verteenwoordig.”
Niemand kan die belofte van ’n vakansie by die see weerstaan nie. Toe Bouwer Bosch Desember my nou hoor, was hy dadelik gretig om saam met Atlantiseers te werk.
Atlantiseers se eerste album word binnekort uitgereik, maar Desember my nou is nou reeds op alle digitale platforms beskikbaar. Desember jou ore NOU, en neem jouself see toe. Dis Desember se droom vakansie, met komplimente van Atlantiseers.
Kyk gerus na hul musiekvideo hier:

