Afrikaanse Musieknuus

Vincent Gordon wil weet: ‘Kan jy soos Karlien stap?’

FOTO: Verskaf

Vincent Gordon se nuutste enkelsnit gaan beslis ’n tendens begin om te sien wie kan ‘Stap Soos Karlien’… Dié pittige popliedjie, wat deur Waldo Greeff, Ferdinand Skead en Vincent self geskryf is, draai om die manier wat die sangeres, Karlien van Jaarsveld, stap.

“Karlien van Jaarsveld is verseker ’n groot inspirasie agter die liedjie en die liedjie is basies gebore uit die asemrowende manier waarop Karlien van Jaarsveld in haar musiekvideo vir Hande stap,” vertel Vincent. “Almal sal weet waarvan ons praat, as ons sê dat die meisie in die liedjie jou sal hipnotiseer omdat sy soos Karlien kan stap.”

Volgens Vincent het hy juis besluit om dié enkelsnit die eerste vrystelling vanaf sy debuut-album, Asem, te maak omdat die konsep sterk is, dit bied vermaak en die melodie laat jou goed voel. “Dit gaan verseker ’n energieke liedjie wees wat oud en jonk se voete sal laat jeuk. Die lirieke is vermaaklik en die melodie propvol ritme en lewe. Buiten dit, het dit ook ’n positiewe boodskap: Jy hoef nie alles in die lewe te kan doen om goed genoeg te wees nie – jy sal altyd ’n goeie eienskap hê, iets wat jou spesiaal maak vir iemand anders.”

Hy verklap verder: “Alles het net mooi saam gewerk. Ons wou ook graag een van ons land se jong ikone in die Afrikaanse musiek industrie vereer en kon aan niemand beter dink as sy nie – net Karlien kan regtig die boodskap oordra soos ons dit in die liedjie bedoel het.”

Vincent hoop dat die publiek die liedjie hul eie sal maak, en brei uit: “Dit moet hulle dadelik in ’n goeie gemoed plaas en hulle harte raak – hulle moet dit werklik innerlik voel. Dit moet hul gedagtes wegneem van ’n negatiewe ingesteldheid of herinneringe en ’n gevoel van dankbaarheid opwek.”

Die musiekvideo, wat deur Luther van der Watt van AVC Studios verfilm en vervaardig is, is by die pragtige Casa Grandé in Brits verfilm. In die video is Vincent opsoek na ’n meisie wat soos Karlien van Jaarsveld kan stap. Ná talle oudisies en vloerbestuurders wat hul hande vol het met die meisies, besluit Vincent om die régte Karlien van Jaarsveld te nader om vir die meisies te wys hoe om werklik ‘soos Karlien te stap’.

Die musiekvideo, wat vroeg in Oktober eksklusief deur Huisgenoot vrygestel gaan word, bevat talle bekende gesigte. Van die bekendes sluit in: Mr. Suid-Afrika 2014, John Owens, die akteur Ramey Short (Binnelanders se Dr. Quinton Meyer), die komediant en geleentheidsbeplanner Craig du Toit Nel, die sangeres Die Flooze (Sorina), die popgroep Tussen Sterre, die sangeres Sharoney en natuurlik Karlien van Jaarsveld self. Laasgenoemde het ook ’n spesiale rok tydens die video aan – Karlien het met die vergunning van die ontwerper Anel Botha, Mej. Heelal, Demi-Leigh Nel Pieters se rok, wat sy tydens haar kroning aangehad het, aan.

Loer hier na agter-die-skerms foto’s tydens die opname van die musiekvideo:

Greylead Records, The Marketing Zoo, Allure Beauty & Spa, BMW Clearwater en Casa Grande & Gran Momento het belangrike rolle gespeel en gesorg vir ’n suksesvolle musiekvideo.

’n Bietjie meer oor Vincent Gordon

Vincent Gordon (27) is ’n sanger vir wie musiek lank reeds deur sy are vloei. Van jongs het hy geweet musiek is vir hom en op die ouderdom van nege het hy reeds vir ’n gehoor opgetree. Sedert 2013 kan van sy musiek ook op radiostasies gehoor word. Hy som sy stem op as smaakvol, nuut en ’n ‘bederfie vir die oor’.

Ferdinand Skead, ’n vriend van Vincent is ’n groot inspirasie vir hom. “Ferdinand is ’n man met soveel talente. Om net saam met hom te sit, te skryf, melodië uit te werk en om in daardie kreatiewe atmosfeer te wees is onbeskryflik. Dit spoor my aan om meer te leer en om net beter te wil doen en wees,” sê hy. Hy sal ook eendag saam met die sanger, Bobby van Jaarsveld, ’n liedjie wil skryf en sing.

Vincent vertel dat sy ondersteuners en persoonlike ervarings as inspirasie vir meeste van sy liedjies dien. “’n Agtergrond van baie sukkel, seer en moedeloosheid wat ek wil omdraai en ’n vars boodskap van ‘wees Asem’ deurgee. Deur my lirieke wil ek lig bring met die boodskap: ‘Bly positief, glo in ons Vader en jy sal sien dat dinge daadwerklik verander’.”

Hy luister graag na musiek waarmee hy op ’n spesifieke oomblik in sy lewe kan identifiseer, maar lig egter Enrique Iglesias uit as ’n kunstenaar wat sy sangstyl beïnvloed. Wanneer jy hom uitvra oor sy gunsteling musiekaanhaling, antwoord hy: “Music speaks when words can’t”.

Verder bieg hy ook dat hy maar skaam is wanneer hy nuwe mense ontmoet en sou graag ’n vlieënier wou wees, indien musiek nie vir hom beskore was nie. “Wat jy werklik is, moet dit nie weggooi of wegsteek nie. Wees altyd nederig, maak nie saak hoe groot jou naam word nie,” vertel Vincent oor wat die bedryf vir hom geleer het.

Vincent het al verskynings op TV-programme soos JAM, Skoonma se Tong en Die GROOT Ontbyt gemaak en is gereeld te hoor op verskeie radiostasies.

Vra jy hom uit oor sy grootste prestasie tot dusver, antwoord hy: “Daar is soveel, maar bo-aan die lys is om my volledige album vroeg in Oktober vry te stel, waarin my hart en siel geskryf is.”

Vir Vincent is daar ’n groot toekoms en behalwe vir optree en sy ondersteuners ontmoet, is dit sy debuut-album, Asem, wat tydens Aardklop vrygestel gaan word wat hom tans besig hou.

Exit mobile version