FOTO: Verskaf
Plaaslike sangers DZL, en die kwaito-ster, wyle Mandoza het kragte saamgesnoer met ’n internasionale sanger om sodoende hulle liefde vir die natuur en veral vir renosters te bewys met die vrystelling van ’n splinternuwe enkelsnit.
Rhino In Our Blood is Woensdag, 6 Junie landwyd en internasionaal op radiostasies en digitale platforms bekendgestel.
“Ons word geken vir die werk wat ons spesifiek binne die privaatsektor doen om bewusmaking rondom renosterbewaring te skep en hierdie liedjie praat veral oor ons harte, ons passie en die werk wat ons daagliks verrig. Renosterbewaring is in ons bloed en die woorde van die lied is wat ons op ’n daaglikse basis uitleef,” vertel Andries Potgieter, die stigterslid van DZL.
Die snit is reeds in 2012 geskryf, maar net voor Mandoza se dood in 2016 saam met die Kroatiese sanger Dino Jelusic, opgeneem. Die snit het intussen ’n nuwe baadjie aangetrek wat by ’n wyer gehoor sal aanklank vind.
“Mandoza het ’n groot liefde vir die natuur gehad en hy wou die lied gebruik om ’n impak te maak en ook ter versterking van sy nalatingskap. Die manne van DZL was nog altyd voorstanders van renosterbewaring en daarom was die samewerking met hierdie lied ’n natuurlike proses,” sê Curwyn Eaton, Mandoza se oud-bestuurder.
Rhino In Our Blood is ’n samewerkingsprojek tussen Mandoza, DZL en Dino Jelusic. Die bekende Suid-Afrikaanse sanger en vervaardiger Daniel Baron, was vir die herskryf en nuwe produksie verantwoordelik.
KLIK HIER OM DIE SNIT DIGITAAL AF TE LAAI
“Die oorspronklike liedjie het ’n baie rock gevoel gehad, maar die nuwe weergawe met sy kombinasie van pop, rock en kwaito-elemente gaan beslis aanklank vind by jonk en oud van verskillende kulture. Die boodskap is ook baie duidelik; ons as mense is die bewaarders van die natuur en daarom moet ons dit vir die generasies wat kom bewaar. Alhoewel die aanslag teen renosters groot is moet ons net saamstaan en ’n verskil maak,” verduidelik Wiaan Fourie, die ander DZL-lid.
Die snit het ook ’n spesiale boodskap. “Die boodskap is dat ons God se skepping moet bewaar. Ons vat baie dinge van self sprekend en deur selfsug en gierigheid is ons besig om dit wat mooi is te vernietig,” vertel Eaton.
Daar word beraam dat die renoster populasie in die Kruger Nasionale Wildtuin binnekort ’n negatiewe groei fase gaan beleef wat beteken meer renosters word doodgemaak as wat daar gebore word. As die huidige stand van sake nie aangespreek word nie gaan die wildtuin teen 2020 geen renosters meer oorhê nie. Ten spyte van baie uitdagings het die privaat sektor al baie suksesse getoon.
“Ons is nie altyd op die grond om self na die bewaring van hierdie renosters om te sien nie, maar ons kan ons musiek, stemme en platform gebruik om bewusmaking te skep. Inligting is baie kragtig en as ons saamstaan kan ons ’n verskil maak,” sê Andries.
’n Gedeelte van die inkomste van die digitaleverkope van die snit sal ook vir renosterbewaring pogings aangewend word. “Hierdie is veral belangrik want dit sal Mandoza se droom bewaarheid om selfs na sy dood ’n verandering teweeg te bring. ’n Gedeelte van die digitale verkope sal na die Rhino Pride Foundation gaan wat groot werk vir renosterbewaring doen,” verduidelik Eaton.
Die nuwe enkelsnit is ook op DZL se nuwe album, Realiteit, wat tans in musiekwinkels soos Musica en op digitale platforms soos iTunes beskikbaar is.
