FOTO: Verskaf
Gryp jou hoed en stewels en vier jou passie vir country-musiek met van die land se voorste kunstenaars by vanjaar se Bakgat Country Opskop.
Die konsert, wat op Sondag, 3 Junie in die GrandWest se Grand Arena aangebied word, beloof om weer ’n middag propvol vermaak vir die hele gesin te wees. Konsertgangers kan na meer as drie ure se vermaak deur Lance James, Barbara Ray, Pierre de Charmoy, Rocking Horse, Tommy Dell, Ray Dylan, Ricus Nel, Elizma Theron, Brandon Oberholzer en Elandré Schwartz uitsien. Die sterre sal almal deur ’n negestuk-orkes, wat as The Banned bekend staan, vergesel word.
Tydens vanjaar se konsert word Lance James se 80ste verjaardag gevier. ‘Big Daddy’ soos hy onder sy aanhangers bekend staan, het amper sy hele lewe op die verhoog deurgebring. Die legende het al byna 100 albums uitgereik en is al talle keer vir sy lewenslange bydrae in die musiekbedryf vereer.
Nog ’n spesiale optrede is die van Pierre de Charmoy, wat na jare weer terug na die verhoog keer. Pierre het in die tagtigs knieë lam gemaak met sy treffer, Live On. Elke jaar kry ’n nuweling ook die kans om sy staal op die Bakgat Country Opskop-verhoog te wys, en vanjaar is dit niemand anders as Brandon Oberholzer.
Kaartjies vir vanjaar se konsert is reeds by Computicket te koop. Afslag is vir pensioentrekkers en groepe van 10 of meer mense beskikbaar by Bakgat Promosies. Skakel 021 981 5010 en besoek www.bakgatpromosies.co.za vir meer.

