Die immergroen, Laurika Rauch, het Woensdag, 1 November haar verjaardag gevier. Wat dié verjaardag egter spesiaal maak is die feit dat haar nuwe album, Gunstelinge, ook uitgereik is.

Gunstelinge is ’n nuwe samestelling waarop Laurika Rauch ondermeer liedjies sing wat sedert 1999 opgeneem is. Sy sê dat sy besonders lief is vir die liedjies, en gevoel het dat hulle dalk nie oor die jare die aandag gekry het wat hulle toekom nie.
Gunstelinge kon eintlik nog gunstelinge genoem gewees het – Laurika het reeds so baie besonderse liedjies wat in die kollektiewe hart ingekruip het opgeneem. Haar getroue gehoor sal bly wees om weer háár weergawe (die eerste, oorspronklike een) van Sonvanger te hoor, sowel as duette saam met Kurt Darren, Jak de Priester, Bok van Blerk en Loki Rothman.
Haar gehoor sal haar ook ‘lewendig’ kan beleef, met verhoog-weergawes van Ek sê vir jou good bye en Brêkfis in Bloemfontein. ’n Onlangse, splinternuwe opname van Stuur groete aan Mannetjies Roux is saam met die sangsensasie Refentse opgeneem, asook ’n nuwe weergawe van Kyk hoe glinster die maan.
Kyk hoe glinster die maan is vir hierdie samestelling spesiaal verwerk deur Loki Rothman, saam met wie Laurika heelwat verhoogwerk oor die afgelope jaar gedoen het. Hulle het natuurlik ook die baie suksesvolle duet van Blou (vir haar vorige album, Die reis) saam opgeneem.
Die herverwerkte weergawe van Kyk hoe glinster die maan was gebruik as deel van die klankbaan van die nuwe film Liewe Kersfeesvader, wat op 17 November uitgereik word.
Die video van Kyk hoe glinster die maan, wat ook tonele uit die film insluit, sal binnekort op kykNET en YouTube – ideaal vir die kersseisoen – gesien kan word.
Laurika het onlangs by Bok Radio se Bokkie-toekennings’ ’n toekenning vir haar Lewenslange bydrae tot Afrikaanse musiek ontvang.
Daar is heelwat verrassings op Gunstelinge – selfs hier en daar ’n Engelse liedjie of twee. Laurika hoop dat luisteraars hierdie CD sal geniet soos wat sy geniet het om dit saam te stel, en dat dit van die begin tot die einde sal deur geluister word – en dan sommer weer van voor af sal begin!
Gunstelinge is nóú landwyd beskikbaar en sal binnekort ook op JOOX beskikbaar wees.