Johan Anker het aanhangers van The Voice SA uit die staanspoor beïndruk toe hy in 2016 stoele laat draai het in die eerste seisoen van dié werklikheidsreeks, met sy hoendervleis-mooi weergawe van Hallelujah.
Die video van sy eerste oudisie is nie net deur meer as 250,000 mense op YouTube gesien nie, maar is ook gekortlys deur The Voice Global (internasionale forum) se blad as Suid-Afrikaanse video-verteenwoordiger van hunks wat aan die kompetisie deelgeneem het.
Nou is hy wéér in die kollig met sy debuut-enkelsnit, Hoop en Bid, wat pas uitgereik is en beloof om luisteraars opnuut te bekoor.
Hierdie liedjie, uit die pen van Vaughan Gardiner, is ’n mengsel van roerende lirieke en ritmiese melodieë. Volgens Johan kan die snit beskryf word as ‘Popera’ (Pop-Opera) met ’n onderliggende geestelike boodskap.
“Die liedjie gaan daaroor dat ons almal geluk en liefde verdien, ongeag wie ons is. Daar is vir almal tye van hartseer, pyn, of vrees en dis juis dan wanneer ons moet saamstaan,” vertel hy.
“Ek dink luisteraars sal van die boodskap hou. Mense is geneig om van iets te hou waarby hulle aanklank vind en dis ook hoekom die liedjie my aandag getrek het. Die doel van musiek is immers om ’n boodskap oor te dra. Ek het ook gedink dit laat my toe om lekker met my stem te speel en dat dit iets anders is as gewone kontemporêre musiek, want ons het ’n klassieke stem in ’n meer moderne konteks probeer plaas.”
Hoop en Bid is ook die eerste amptelike vrystelling van sy debuutalbum wat in Augustus 2017 uitgereik word. Johan is baie opgewonde oor dié vooruitsig en beskou dit as een van die hoogtepunte van sy loopbaan. Die album kan beskryf word as ’n mengsel van ligte klassieke – en geestelike musiek.
“Die doel van die album is om vir luisteraars hoop te gee. Daar is ook liedjies gekies wat vir my iets beteken,” verklap hy. “Ons het probeer om ’n nuwe en vars gevoel aan ’n klassieke stem te gee.”
Die album bestaan uit elf snitte, wat spesiaal omskep is om sy stem ten toon te stel. Die oorspronklike snitte is deur ’n sterk span skrywers geskep en verwerk, maar Johan beplan om met sy volgende album meer by hierdie proses betrokke te wees.
“Daar is twee liedjies wat vir my uitstaan. Die eerste is die Oorwinningslied, omdat dit is wat ek gesing het met my heel eerste solo-optrede toe ek nege was. Hoe Groot is U was die laaste lied wat ek op The Voice SA gesing het en dit is ook my pa se gunsteling-kerklied.” Indrukwekkende weergawes van treffers soos Romanz se My Hele Hart en Steve Hofmeyr se God se Bedelaar is ook op die album.
Wanneer dié Oos-Kapenaar nie besig is om musiek te maak nie, hou hy sy lyf akteur, aangesien hy met ’n BA-graad in Drama van die Universiteit Stellenbosch spog. Hiér het hy onder leiding van bekende regisseurs soos Marthinus Basson geleer. Hy was ook op die kassie te sien in een episode van die eerste seisoen van die kykNET-reeks, Boland Moorde. Tussendeur gee hy klas in Engels en Drama vir senior leerders by Die Nasionale Skool vir Kunste.
Volgens Johan put hy die inspirasie vir sy musiek uit persoonlike ervarings. Hy het groot bewondering vir Steve Hofmeyr se werksetiek en Bobby en Karlien van Jaarsveld se goedhartigheid en sal eendag graag saam met Riana Nel, Joe Niemand en Corlea Botha wil werk.
Om die volkslied by ’n internasionale rugbywedstryd te sing, is ook ’n droom wat hy graag wil verwesenlik. Die musiekbedryf het hom geleer om kanse te vat en geduldig te wees. “ ’n Mens is so geneig om handdoek te wil ingooi en ek wou al hoeveel keer ophou sing, maar daar is altyd daai stemmetjie wat vir jou sê om weer te probeer.”
Een van sy leerlinge het een keer vir hom gesê: “Jy lyk soos ’n lid van One Direction, maar jy klink soos Pavarotti.”
