Site icon Afrikaanse Musieknuus

Willem Botha se album eersdaags op die rakke

Dis onmoontlik om te dink dat dit reeds vyf jaar is sedert Willem Botha se album My Stem Is Joune, die lig gesien het. Maar moenie dink dié sanger het net stil gesit nie. Oor die laaste vyf jaar was hy op die verhoog te sien in die musiekblyspele, Tree Aan en Altyd In My Drome, sy passie vir fotografie het uitgebrei, hy het sy aanbiederskoene aangetrek vir die kykNET NOU-program, chat NOU, en tree steeds by verskeie feeste en geleenthede reg oor die land op. Willem is egter terug in die studio, en het bevestig dat hy ’n platekontrak met Universal Music South Africa geteken het en dat sy album op 17 April 2017 die winkelrakke sal tref  – op sy 30ste verjaardag.

“Ek wou nooit net ’n album uitreik om ’n album daarbuite te hê nie,” verduidelik Willem. “Ek het net ander projekte gehad wat my besig gehou het. Ek het twee groot teaterstukke aangepak en twee dramareekse vir kykNET sedert 2012. As ek nie my alles kan gee vir ’n projek nie, dan doen ek dit nie.”

Nou, het die tyd egter aangebreek, en Willem is opgewonde om kragte saam met die grootste platemaatskappy in die land – Universal Music, te snoer. “Ek is so opgewonde,” sê Willem oor dié vennootskap. “Ek het die Universal-span sedert die begin van my loopbaan geken, en nou 10 jaar later is ek deel van dié span.” Willem sê om deel van die platemaatskappy te wees gee sy loopbaan daardie ekstra hupstoot. “Hulle het dieselfde dryfkrag as wat ek het. Dis baie belangrik,” verduidelik hy.

Willem is besig om te skaaf en te skuur aan die album, en die eerste enkelsnit vanaf die album behoort in die volgende paar weke vrygestel te word. Willem het met die album nie die druk gevoel om goeie kwaliteit te skep, soos sy vorige albums nie. “Ek het vyf jaar gehad om die liedjies te skryf,” sê hy. “70% van die album het ek self geskryf. Oor die vyf jaar het ek nie net in ouderdom gegroei nie, maar ook in ondervinding. Die album is baie persoonlik en ek sit myself daarbuite.”
Die volgende paar maande gaan baie besig wees vir dié sanger soos hy reg maak om sy nuwe album bekend te stel. “Ek het drie toere wat voorlê in die volgende vier maande  –  een in Namibië vir drie weke,” vertel hy. “Tussen deur doen ek ook ’n gróót CD bekendstelling. Ons doen ook ’n media toer om seker te maak die album kom orals uit. Dis baie opwindend.”

Exit mobile version