Kaartjies vir vanjaar se Madeliefie Makietie, wat vanaf Donderdag, 29 September tot Sondag, 2 Oktober 2016, op Vredendal plaasvind, word reeds vinnig opgeraap.
Feesgangers word dus aangeraai om kaartjies vroegtydig te koop. Kunstenaars soos, Karen Zoid, Kurt Darren, Theuns Jordaan, Refentse, Snotkop, ADAM, Elvis se Seun, Wicus van der Merwe, Ricus Nel, Liza Brönner, Wynand en Chereé, Dr. Victor & The Rasta Rebels, Hendrik Spangenberg en Rooies, sal by vanjaar se fees optree.
Daar is ook verskeie musikante wat op die Castle-verhoog gaan optree en ATKV-stoepstories word ook vanjaar aangebied.
“Ons het ’n wye verskeidenheid van kunstenaars by die jaar se fees.” sê Cindy Schade, skakelbeampte van Madeliefie Makietie. Volgens Schade poog die feeskomitee om iets vir oud en jonk te bied.
Benewens al die top kunstenaars op die verhoog, kan feesgangers ook uitsien na verskeie aktiwiteite soos Mejuffrou Madeliefie, die Daisy Zing-sangkompetisie, die Maltap kompetisie, ’n damesoggend, met André Schwartz, en selfs ’n Agri-Expo.
“Madeliefie Makietie se fokus is om die gemeenskap en skole in die omgewing te help en te ondersteun. Tydens die fees is dit vir ons ook belangrik om ’n veilige en gesinsvriendelike atmosfeer te skep. Ons is baie trots dat ons dit juis verlede jaar met sukses kon regkry,” sê Schade verder.
Volgens haar is die fees ʾn voltydse leefstyl-projek om die jeug van die streek te ondersteun. “Finansiële en projekte-hulp word aan alle skole, in die Matzikama-gebied, verleen wat ʾn befondsingsversoek indien by die komitee,”
Die volledige feesprogram is beskikbaar by www.madeliefiemakietie.co.za. Kaartjies is te koop by Computicket, Shoprite/Checkers en House & Home.
Ontvang ongelooflike waarde vir jou geld vir die verskeidenheid van vermaak wat by vanjaar se fees beskikbaar is. Kaartjies wissel vanaf R60 tot R120 per persoon.
Volg ons op Facebook (www.facebook.com/MadeliefieMakietieSA), Twitter (@madeliefieM) en Instagram (@madeliefiemakietie) vir daaglikse opdaterings.

