Site icon Afrikaanse Musieknuus

Só klop die musiek by vanjaar se Aardklop

Die Aardklop-kunstefees vind van 4 tot 9 Oktober 2016 in Potchefstroom plaas. Die feesprogram is vol musiek gepak en beloof om iets vir elke oor te hê. Hier is so paar musiekproduksies wat nié misgeloop mag word nie.

Hartklop

Hartklop vier die beste van Suid Afrikaanse musiek oor alle grense en dekades heen. Vanaf die 70’s met Koos Doep, die 80’s en die Voelvrybeweging, tot hedendaagse treffers van onder andere Mango Groove, Johnny Clegg en Koos Kombuis. Met Joshua na die Reen, Gloria Bosman, Anna Davel, Timothy Moloi, Charl du Plessis Churchill Naude en Christo Davids. Klik hier om kaartjies te koop vir die vertoning.

Charl du Plessis se Boogie Woogie

Klim op die A-Train by Aardklop saam met Charl du Plessis en sy Boogie Woogie Big Band en kom swing saam met musiek van Duke Ellington, Count Basie en Glenn Miller. Suid-Afrika se top-instrumentaliste kry jou in die bui vir ’n sentimentele reis waar die klavier uitbars in Great balls of fire en die blasers hulle vingers verbrand. Ook met Musanete. Klik hier vir kaartjies.

Amanda Strydom – ’n Rugsak vol Robyne

Amanda Strydom, wenner van vanjaar se Fiësta-toekenning vir beste prestasie in ’n musiekgedrewe produksie, bring ter viering van haar sestigste verjaarsdag ’n Rugsak vol Robyne na Aardklop. In hierdie musiekproduksie sing sy liedjies uit haar omvangryke repertoire, asook gunstelinge in Frans, Engels en Nederlands. Klik hier om jou kaartjies te bespreek.

Bobby van Jaarsveld en orkes

Die sjarmante Bobby van Jaarsveld bring sy orkes en sy fluweel stem om knieë lam te sing in die Ouditorium. Maak seker jy is in die gehoor wanneer die talentvolle liedjieskrywer op Woensdag, 5 Oktober by Aardklop kom spog met sy nuutste treffers. Klik hier om kaartjies te koop.

Theuns Jordaan en Anton L’Amour

Theuns Jordaan bring sy ikoniese stem na die Aardklop verhoog wanneer hy in samewerking met Anton L’Amour se uitsonderlike kitaarspel feesgangers kom vermaak. Maak seker dat jy jou fees afsluit met ’n aand van hartsliedjies en basstem bederf. Klik hier vir meer en om kaartjies te koop.

Karen Zoid

Vrydagaand, 7 Oktober kom die koningin van Zoid Afrika oudergewoonte die dak lig met haar Afrikaanse rock hart en haar goue stembande. Jonges van gees en vlees sal verseker nie vir Karen Zoid wil misloop nie so maak seker dat jy eerste is om jou kaartjie te koop. Klik hier vir meer oor die konsert en om kaartjies te koop.

Elvis Blue en orkes

Die SAMA-bekroonde, Elvis Blue bring sy orkes om die verhoog behoorlik warm te speel op Donderdagaand, 6 Oktober. Feesgangers kan nie vra vir ’n groter bederf op ’n middel-van-die-fees aand nie. Klik hier vir meer en om kaartjies te koop.

Mathys Roets – 21 jaar

Mathys Roets vier vanjaar sy 21ste jaar in die Suid-Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf. Hierdie vertoning is ’n nostalgiese terugblik op sy sangloopbaan waar hy die storie vertel met die musiek en skrywers waarmee hy die pad as sanger geloop het. Klik hier vir kaartjies.

Opsoek na die volledige feesprogram? Klik hier en laai gerus vanjaar se program af!

Exit mobile version