Site icon Afrikaanse Musieknuus

Nuwe ADAM-treffers te hoor by Madeliefie Makietie 2016

’n Hoogtepunt by vanjaar se Madeliefie Makietie 2016 is ’n optrede deur die gewilde groep ADAM. Top kunstenaars soos Kurt Darren, Karen Zoid, Theuns Jordaan, Refentse, Snotkop, Dr. Victor & The Rasta Rebels, Wynand en Chereé, Wicus van der Merwe, Liza Brönner, Ricus Nel, Hendrik Spangenberg en Rooies gaan vanaf Donderdag, 29 September tot Sondag, 2 Oktober op Vredendal saamtrek vir dié makietie.  

“Ons tree vir die heel eerste keer op by die fees en kan nie wag om die mense van Vredendal te ontmoet nie” sê Hugo Ludik van die groep, ADAM. Hul optredes is propvol energie en lekker dans sowel as ‘n reuse partytjie.

Volgens Ludik kan feesgangers uitsien na lekker lag en fantastiese musiek tydens hul optredes. “Ons splinternuwe album, Hoogtevrees, word in Augustus uitgereik. Dit sal die eerste keer wees wat ons die nuwe materiaal gaan opvoer,” sê hy. Die groep werk reeds twee jaar aan die album en sê dat dit dalk een van hul bestes nóg kan wees.

‘Ons sing nuwe materiaal by die fees’ – Hugo Ludik

“Kaartjies vir vanjaar se fees verkoop reeds soos soetkoek” sê Cindy Schade, skakelbeampte van Madeliefie Makietie. Volgens Schade moet feesgangers vroegtydig hul kaartjies aanskaf om teleurstelling te voorkom.

Benewens die top kunstenaars op die buitelugverhoog, kan feesgangers ook uitsien na ’n inkopieparadys met verskeie stalletjies, ’n pars-en-proe-lokaal, pretritte en verskeie aktiwiteite soos die Mej. Madeliefie, Maltrap-fietsry kompetisie, ens.

Feesgangers gaan vanjaar werklike waarde vir hul geld ontvang. “Die grootste kunstenaars gaan op een verhoog te sien wees, dus mag feesgangers beslis nie die geleentheid misloop nie” sê Ludik verder.

Hulle wil sing en mense vermaak vir so lank as wat dit nog moontlik is. “Al is ons 80-jaar oud, wil ons steeds sing, as ons kan!”

“Moenie vanjaar se fees misloop nie, dit gaan die grootste kuier wees” verseker Ludik feesgangers wat die fees wil meemaak.

Kaartjies vir die fees is nou by Computicket, Shoprite/Checkers en House & Home beskikbaar en wissel vanaf R60 tot R120 per persoon. Kaartjies is ook aanlyn by www.madeliefiemakietie.co.za beskikbaar.  

Volg Madeliefie Makietie op Facebook (www.facebook.com/MadeliefieMakietieSA), Twitter (@madeliefieM) en Instagram (@madeliefiemakietie) vir daaglikse nuus.

Exit mobile version