Ná die sukses van “Carina” is Danny Smoke terug met ’n splinternuwe enkelsnit wat beslis sy plek op dansvloere regoor die land gaan verdien. “Monica”, wat op Vrydag, 27 Maart 2026 vrygestel word, bring nie net ’n aansteeklike sokkie-ritme nie, maar ook ’n humoristiese en hartroerende musiekvideo wat kykers gaan laat glimlag.
Die liedjie is geskryf deur Danny self, saam met sy suster Rochelle Rautenbach en vervaardiger Emil Paul, met produksie deur Werner Beukes. Met ’n moderne sokkie-klank en ’n energieke aanslag, is “Monica” van die eerste maat af ’n liedjie wat vra om saam gesing en gedans te word.
Die musiekvideo, vervaardig deur Gerduan Kemp Productions, neem inspirasie uit die ikoniese karakters Chandler en Monica uit die gewilde TV-reeks Friends. In dié speelse, alternatiewe heelal vertolk Janey & Waney die geliefde karakters, terwyl Danny die rol van ’n vasberade kelner speel wat alles in die stryd werp om Monica se hart te wen – selfs al beteken dit hy moet teen Chandler meeding. Die resultaat is ’n lawwe, nostalgiese en karaktervolle video wat perfek by die lied se warm energie aansluit.
“Monica” vertel die verhaal van ’n vriendskap wat stadig maar seker in liefde begin verander – daardie spesiale oomblik wanneer jy besef iemand beteken meer as net ’n vriend. Met lirieke oor geheime danspassies, stil oomblikke saam en die hoop op ’n “ja” in die toekoms, is dit ’n opregte feel-good liefdesliedjie met ’n groot hart.
Volgens Danny was die kreatiewe proses net so lekker soos die eindproduk: “Ons het die grootste pret gehad met hierdie een. ‘Monica’ is ’n fun, hoopvolle liefdesstorie en die musiekvideo vat dit sommer na ’n nuwe vlak. As jy al ooit vir die underdog geroot het, is hierdie lied vir jou. En glo my… jy gaan dans.”
Met sy vars klank, speelse storielyn en onweerstaanbare energie, is “Monica” gereed om gehore te bekoor en dansvloere onder die sterre aan die brand te steek.
“Monica” is beskikbaar vanaf 27 Maart 2026 – en die musiekvideo is beslis een wat jy nie wil misloop nie.
