Die geliefde Afrikaanse groep Rooksein is terug met ’n vars klank, ’n nuwe energie en ’n lied wat diep in die hart tref. Hul nuutste enkelsnit, “Wie Anders”, vier nie net die krag van menslike konneksie nie, maar merk ook die begin van ’n opwindende nuwe era vir die groep met die bekendstelling van ’n nuwe vrouestem.
Ná die reuse sukses wat Rooksein saam met Megan Tait behaal het, breek ’n nuwe hoofstuk vir die groep aan. Megan was ’n integrale deel van die groep se reis en haar bydrae tot hul vroeë treffers het ’n stewige fondasie gelê vir die sukses wat sou volg. Haar rol in die ontwikkeling van Rooksein se kenmerkende klank sal altyd deel bly van hul storie.
Met die vrystelling van “Wie Anders” verwelkom die groep die talentvolle Anzelle as hul nuwe vroulike stem. Haar unieke klankkleur en passievolle vertolking bring ’n vars energie na die groep se musiek, terwyl dit steeds getrou bly aan die emosionele diepte waarvoor Rooksein se aanhangers hulle leer ken en liefkry het.
Die lied self ondersoek die idee van sielsgenote en onwrikbare lojaliteit. Met lirieke soos “So wie sal jou hande warm maak in die aande as jy sukkel om te slaap en daai trane vir jou vang as dit donker raak” vang die lied die rou emosie van liefde en die soeke na daardie een persoon vas – die een wat jou werklik ken, verstaan en jou naam roep wanneer die wêreld donker raak.
Rooksein het reeds ’n sterk merk op die Suid-Afrikaanse musiektoneel gemaak met treffers soos “Kyk Na My,” “Damlelielief” en “Sonsak In Die Vrystaat” – liedjies wat diep in luisteraars se harte ingekruip het. Met “Wie Anders” bou die groep voort op hul ryk musikale geskiedenis, terwyl hulle terselfdertyd nuwe kreatiewe hoogtes begin verken.
Hierdie vrystelling bring ook nóg ’n interessante eerste vir die groep. “Wie Anders” is die eerste keer dat Rooksein saam met mede-skrywers aan ’n liedjie werk. Die lied is geskryf deur ’n indrukwekkende span van gevestigde name in die bedryf: Marco van Deventer, Riaan Benadé, Georic Lomas, Renier van der Westhuizen en Dian Maritz – almal kunstenaars en liedjieskrywers wat reeds hul merk in die Afrikaanse musiekwêreld gemaak het.
Kyk die musiekvideo hier:
Rooksein se musiek was nog altyd sinoniem met eerlike storievertelling en sielvolle melodieë. Hul vermoë om liedjies te skep wat emosioneel resoneer met luisteraars het hulle ’n lojale aanhang regoor Suid-Afrika besorg. Met “Wie Anders” en die nuwe energie wat Anzelle bring, lyk dit asof die groep gereed is om hierdie volgende hoofstuk met dieselfde passie en opregtheid aan te pak wat hulle tot dusver so geliefd gemaak het.
