Die bekroonde kunstenaar en geliefde televisiepersoonlikheid Leah is terug met haar hoogs verwagte nuwe enkelsnit, “Dieselfde Bly” — ’n diep persoonlike en emosioneel-ryke lied wat die veiligheid, standvastigheid en rustigheid van ’n ware verhouding ondersoek.
In teenstelling met die hoëtempo-dansritmes wat aanhangers in van haar vorige werk leer ken het, beweeg “Dieselfde Bly” in ’n meer ingetogte, sielvolle rigting. Dit is ’n kragtige loflied vir toewyding en vir die mense wat bly staan wanneer die wêreld om jou begin verbrokkel.
Die lied dien as ’n huldeblyk aan daardie een persoon wat jou anker is — die konstante teenwoordigheid wat kalmte bring te midde van chaos. Van gevoelens van onwaardigheid en onsekerheid tot die vrede van “kalmte in die storm”, verken “Dieselfde Bly” hoe ware liefde jou perspektief, jou hart en uiteindelik jou hele wêreld kan verander.
Kyk die musiekvideo hier:
“Dieselfde Bly” is ook besonders omdat dit Leah se tweede lied is waaraan sy as mede-skrywer gewerk het. Hierdie keer het sy hande gevat met Richann Brussouw om ’n lied te skep wat eerlik, kwesbaar en onmiskenbaar uit die hart kom. Die lirieke, gekombineer met Leah se kenmerkende stem, skep ’n intieme luisterervaring wat lank ná die laaste noot bly vassteek.
Terwyl aanhangers steeds saamsing met treffers soos “Met Jou Klere Aan”, “Volmaan”, “Ek Like Jou”, “Nooit Alleen” en vele meer, stel “Dieselfde Bly” ’n nuwe, meer volwasse en sielvolle kant van Leah bekend — een wat haar artistieke groei en emosionele diepte onderstreep.
As ’n gedrewe en ambisieuse kunstenaar bly Leah haarself voortdurend uitdaag en na nuwe hoogtes stoot. Met haar passie vir musiek, televisie en verhoogwerk is sy sonder twyfel ’n kunstenaar wat ’n blywende indruk maak — en “Dieselfde Bly” bevestig dit op ’n besonder mooi manier.
