Die Afrikaanse sangeres en liedjieskrywer Amanda Luca het op 26 Desember 2025 haar debuut-EP, “Hemelruim”, bekendgestel – ’n vier-liedjieprojek wat fokus op temas van liefde, verlies en selfontdekking.
Die EP se titel-enkelsnit, “Hemelruim”, dien as die spilpunt van die vrystelling. Met ’n moderne popklank en ligte, dromerige elemente vier die lied die vreugde van samesyn en vorm dit ’n meer energieke kontras teenoor die res van die snitte.
Die oorblywende liedjies – “Jy”, “Onthou Jy” en “Veilige Plek” – is ballades wat ’n meer introspektiewe en melankoliese toon aanslaan. Die produksie is atmosferies en kontemporêr, met eerlike lirieke wat Amanda Luca se storievertelling beklemtoon.
Volgens Amanda weerspieël “Hemelruim” die spanning tussen droom en werklikheid. “Vir my gaan hierdie EP daaroor om plek te maak vir beide die hemel en die aarde. Elke lied dra iets van my eie storie, maar ek glo luisteraars sal ook hulle eie ervarings daarin kan herken,” sê sy.
Amanda Luca tree reeds sedert haar kinderjare op en het op 16-jarige ouderdom ’n goue medalje by die Suid-Afrikaanse Talentkampioenskappe ontvang vir haar solo sang- en kitaaruitvoering. Sy het aan die Universiteit Stellenbosch studeer, waar sy ’n Baccalaureus in Musiek voltooi het met spesialisering in klassieke kitaar, sang en komposisie, gevolg deur ’n diploma in Musiekopvoeding.
In 2022 is sy genooi na die International Models and Talent Convention in New York City en het sy ’n vierjarige beurs aan die AMDA College of the Performing Arts ontvang. Haar eerste enkelsnit, “Ironic”, is in 2023 vrygestel. Kort daarna het sy haar loopbaan as solo-sanger op luukse passasier-skepe vir TUI Cruises begin.
Amanda vertrek op 20 Januarie 2026 weer op ’n internasionale reis na onder andere Singapore, Thailand en Vietnam. “Hemelruim” is tans op alle digitale stroomplatforms beskikbaar.
