Refentse is terug – en hierdie keer bring hy meer as net ’n nuwe liedjie saam. Ná ’n stilteperiode waarin hy gefokus het op sy nuwe rol as pa, is hy nou vol inspirasie en kreatiewe vuur. Op 20 Junie 2025 stel hy sy splinternuwe enkelsnit, “Nykie”, aan jou voor – ’n liedjie wat nie net jou voete sal laat jeuk om te dans nie, maar ook jou hart sal laat luister.
Maar wie is Nykie? Volgens die gerugte is sy ’n jong vrou wat diep spore in Refentse se hart gelaat het. Daar’s ’n verlange, ’n stukkie spyt – en dalk ’n hoop om weer te herstel wat verlore gegaan het. Die presiese storie? Dít moet jy self hoor in die lirieke, want Refentse hou daarvan om jou tussen die lyne te laat lees.
“Nykie” is gebore uit die penne van top-liedjieskrywers Don Kelly, Stephan en Fran-zel van Huyssteen, en Refentse self. Hierdie span het ’n storie geskryf wat ewe veel gevoel as ritme dra – en met Hugo Ludik van Muse Productions aan die stuur van die vervaardiging, is dit ’n bederf vir die ore.
Die klank is vars, folk-geïnspireerd en vol energie – van ’n Ierse kroeg reguit na ’n sokkievloer. Dis die Refentse wat jy ken en liefhet, met ’n nuwe klank wat wys hy groei saam met sy stories.
Maak seker jy ontmoet vir “Nykie” op 20 Junie 2025 op alle digitale platforms – en hou jou oë oop vir die musiekvideo, wat beloof om nóg meer lig op hierdie misterieuse karakter te werp.
Refentse is terug. En hy’t ’n storie om te vertel.
