Site icon Afrikaanse Musieknuus

Sing in Afrikaans gesels met Anzélle oor ‘Tussen Die Wolke’

In die jongste aflewering van die gewilde Spotify-potgooi met Sing in Afrikaans, nooi Charmaine luisteraars om op ’n reis te gaan deur die klanke en drome van Anzélle se nuutste enkelsnit, “Tussen Die Wolke.” Bekend vir haar borrelende persoonlikheid en kreatiewe flair, deel Anzélle die storie agter die liedjie – en hoe dit amper ‘n heel ander naam gehad het.

“So ‘Tussen Die Wolke’ sou eintlik eers ‘Skoffel en Score’ gewees het,” lag Anzélle, “maar toe besef ons gou dat dit nie sou werk nie.”

Die liedjie, wat saam met Roux Cloete en William Wolf geskryf is, het toe ‘n nuwe rigting ingeslaan – een wat veel sagter en dromeriger is. “Dit gaan oor jy wat so verlief is op hierdie persoon, en ek dink as ’n mens verlief is, is daar nie rêrig iets wat jou kan weg van dit nie,” verduidelik sy eerlik.

“Tussen Die Wolke” bring ’n unieke klank en energie na die Afrikaanse musiektoneel – iets wat Charmaine en Anzélle in die episode verder ondersoek. Daar word gesels oor die kreatiewe proses, hoe die samewerking met Cloete en Wolf haar geïnspireer het, en wat die simboliek van die titel vir haar beteken.

Benewens die musiek, deel Anzélle ook persoonlike stories en ligte oomblikke – van haar mees onvergeetlike herinnering tydens die opnameproses tot ’n speelse vraag: Wat sou jy saamvat op ’n piekniek op Pluto?

Die gesprek raak ook aan haar ervarings tydens die DorpToe Fees wat op 16 en 17 Mei by Brits plaasgevind het. Die fees was ’n hoogtepunt vir Anzélle, en sy vertel met entoesiasme van die energie, die mense, en die liefde vir Afrikaanse musiek wat in elke noot gevoel kon word.

Of jy nou al vir lank ’n aanhanger is of ’n nuweling van Anzélle se musiek is, hierdie potgooi bied ’n opregte blik op haar reis, haar inspirasie, en haar liefde vir die kuns van liedjieskryf. “Tussen Die Wolke” is nie net ‘n liedjie nie – dit is ’n gevoel, ’n droom, ’n oomblik vasgevang in musiek.

Vir die volledige gesprek, luister gerus na die onderhoud bo-aan hierdie berig.

Exit mobile version