Marno van der Merwe, die geliefde Afrikaanse sanger en storieverteller, is terug met ’n nuwe liedjie wat diep in die siel van die plattelandse lewe sny. Sy jongste enkelsnit, “Bakkie In Die Land”, is vandag, 2 Mei 2025, vrygestel en beloof om ’n temalied te word vir elke boer, werker, dromer en dromer-in-modder.
Dié storieliedjie vertel van ’n man wat soos elke dag met sy bakkie deur die plaas ry, net om hierdie keer vas te sit in ’n landery wanneer die reën onverwags begin uitsak. Soos die wiele begin gly en die modder hom insluk, kom hy agter: soms help geen poging of plan nie – jy moet maar net wag. Gelukkig is hy gemaklik in sy bakkie. Al is hy vas, is hy teen die wêreld beskut.
Met eenvoudige maar beeldryke lirieke en ’n melodie wat jou laat verlang na die oop vlaktes en die geur van nat aarde, slaag Marno daarin om daardie unieke oomblikke vas te vang – wanneer alles stilstaan, en jy net weer asemhaal. Dié liedjie is nie net ’n huldeblyk aan die boere se daaglikse stryd nie, maar ook aan die geestelike vrede wat mens soms in ’n bakkie kan vind, al is jy vasgevang.
“Bakkie In Die Land” is veel meer as net ’n snit oor reën en modder – dis ’n metafoor vir die lewe self. Vir die oomblikke wanneer dinge nie vorentoe wil beweeg nie. Maar as jy in daardie oomblik rus kan vind, is jy eintlik vry.
Kyk die musiekvideo hier:
Wees deel van die Bakkie-dae, soos Marno dit noem, en plant hierdie lied diep in jou hart. Skakel aan, draai oop, en ry saam – al is dit net in jou kop – saam met “Bakkie In Die Land”.
