Kyk, as daar één ding is waarvan Kurt Darren en sy vrou, Dunay, hou, dan is dit beslis ’n wegbreek na die bosveld. Dié geliefde paartjie se liefde vir die natuur, die stilte van die veld en die geselligheid van ’n kampvuur het nou lewe gekry in ’n splinternuwe liedjie – en dié een kom met ’n besondere verrassing.
“Bos Is My Kos (Kampvuur Mix)” is nie net nog ’n lekker kuierliedjie nie. Dit is ’n eg persoonlike projek – gebore uit die Darren-gesin se gedeelde liefde vir die bosveld. Wat hierdie liedjie nóg spesiaal maak, is dat Dunay self dit saam met Kurt geskryf het. Ja, jy het reg gelees – die vrou agter die man sing nou ook saam met hom in die vorm van lirieke en inspirasie.
Die verrassing hou egter nie daar op nie. Dunay neem ook die hoofrol in die beeldskone musiekvideo wat verfilm is by Nkomazi Private Game Reserve, net buite Mbombela. Hierdie spesiale plek is een van die Darrens se gunsteling bestemmings wanneer hulle wegbreek na die natuur toe – en dit wys. Die asemrowende natuurtonele, intieme oomblikke rondom die kampvuur en daardie onmiskenbare gevoel van vrede wat net die bos kan bring, word perfek vasgevang op kamera.
LEES OOK: Kurt Darren se nuwe album is 100% in die kol!
“Bos Is My Kos (Kampvuur Mix)” is nou beskikbaar op alle stroomdienste en beloof om ’n gunsteling te word vir enigeen wat lief is vir die buitelewe, goeie musiek, en daardie warm gevoel wat jy kry wanneer jy saam met geliefdes om ’n kampvuur sit.
So, steek ’n vuurtjie aan, hou haar of hom styf vas, en maak daardie bosveld-drome waar – al is dit net vir ’n paar minute lank – met dié liedjie wat jou hart warm gaan maak.
Kyk die musiekvideo hier:
Dis meer as net ’n liedjie – dis ’n liefdesbrief aan die bos.
