Aanhangers van die gewilde groep Glaskas was die afgelope paar maande in ekstase toe hulle weer die kans gekry het om gereeld optredes van die groep by te woon. Ná ’n stilte van ’n paar jaar het Glaskas die musiekliefhebbers in Suid-Afrika verfris met ’n splinternuwe enkelsnit, “As Ek Weet Hoe”, wat vanaf vandag aanlyn beskikbaar is. Dit is die groep se tweede enkelsnit in die afgelope 13 jaar en volg op die suksesvolle vrystelling van “Die Lig” in 2023.
Glaskas, wat vandag bestaan uit die talentvolle Deon Meiring (stem, kitaar en bekfluitjie), Lolke-Louis Claassen (stem en dromme), Johan Viljoen (stem en baskitaar), en Francois Kleynhans (stem en kitaar), het die afgelope paar jaar gewerk aan nuwe musiek wanneer hul besige skedules dit moontlik gemaak het. Die groep het egter onlangs ’n kans geskat toe daar in Januarie vanjaar ’n opening by Johan se studio ontstaan het. Deon Meiring, die voorman van die groep, het die geleentheid aangegryp om ’n paar van die nuwe liedjies vir die groep af te handel.
“Ek het ‘As Ek Weet Hoe’ in Januarie vanjaar geskryf. Daar’s iets van die dryf van ‘n nuwe jaar wat my altyd senuweeagtig maak – is ek opgewasse vir al my drome? Weet ek selfs hoe om te doen wat ek graag wil doen?” vertel Deon. “Ek het ‘One Piece’ onlangs ontdek danksy die live action weergawe op Netflix. Die hoofkarakter se geesdrif is vir my aangrypend, en hoe hy volgens ons gewone prentjie van ’n seerower eintlik aweregs is. Ek hou al vir lank van seerowers en wat ons by hulle kan leer om die gewone stand van sake te bevraagteken. So dit het my geïnspireer om iets van hierdie temas te gebruik om myself bietjie te motiveer en te stoei met my seemonsters.”
Die nuwe enkelsnit “As Ek Weet Hoe” bring Glaskas se kenmerkende klank na die voorgrond: sterk melodieë, groot energie en lirieke wat dieper betekenis dra. Die liedjie sal oud en nuut aanhangers van die groep heel moontlik herinner aan die pop-punk klank wat Glaskas se kenmerk is. Die lirieke van die liedjie sluit ’n selfondersoekende tema in, wat iets is waarvoor Glaskas se musiek al lank bekend is. Met die drie oorspronklike lede en Johan Viljoen as vierde lid en produsent, weerspieël hul nuwe musiek nie net jare se ervaring nie, maar ook ’n sterk aanvoeling vir mekaar se kreatiwiteit.
Na al die jare wat die groep saam gewerk het, bly die verhoog vir hulle die plek waar hulle die meeste tuis voel. Vir die aanhangers wat nie genoeg van Glaskas kan kry nie, is daar meer verrassings op pad in 2025. Deon meen: “Daar is reeds nog ’n paar enkelsnitte wat in die ry staan om uit te kom en ook ’n video of twee wat beplan word. Ons het nog ’n groot droom of drie, maar sal eers meer daaroor kan sê as ons die planne mooi in plek het daarvoor.”
Glaskas se nuutste enkelsnit “As Ek Weet Hoe” is ’n opwindende toevoeging tot die groep se reeds indrukwekkende katalogus, en dit is duidelik dat hulle met elke nuwe vrystelling die limiet verken van wat hulle as kunstenaars kan bereik. Aanhangers mag dalk nie weet wat presies om te verwag nie, maar hulle kan seker wees dat daar nog baie opwindende musiek en projekte in die toekoms wag.
