As jy op soek is na ’n musiekvideo wat die skerms aan die brand gaan steek en ’n liedjie wat jou voete sal laat jeuk, dan is Irene-Louise van Wyk en Bobby van Jaarsveld se nuwe duo-enkelsnit, “Shut Up & Soen My,” net vir jou!
Hierdie vurige duet is geskryf deur Bobby self en vervaardig deur Tjaart van der Walt en Austin Hulme. Met ’n energieke ritme en ’n aansteeklike melodie, beloof die liedjie om luisteraars van die eerste noot af vasgenael te hou.
Bobby deel sy opgewondenheid oor die samewerking: “Dit is altyd lekker om saam met Irene-Louise te werk. Ek ken haar al soveel jare en hierdie liedjie val ook lekker in haar styl. Ek sou die liedjie saam niemand anders wou opneem nie. Dit was ook so lekker en gemaklik om die musiekvideo saam met haar te doen. Dit het nie eers gevoel of ons ’n musiekvideo shoot nie. Dit was net lekker fun en vol energie.”
Die musiekvideo, wat propvol vonke en speelse sjarme is, vang die titelsnit se betekenis perfek vas. Die chemie tussen Irene-Louise en Bobby spat behoorlik van die skerm af en maak dit moeilik om nie saam te glimlag en te geniet nie.
Irene-Louise verklap ook haar entoesiasme: “Ek ken vir Bobby vandat ons op skool was, so dit was baie lekker om saam hom te kan werk aan hierdie enkelsnit. Ek sien uit na almal se reaksie en terugvoer van die liedjie en musiekvideo en hoop hulle love die song net soos wat ons doen.”
Kyk die musiekvideo:
Die groot vraag op almal se lippe: Het hulle regtig gesoen? Hierdie is ’n enkelsnit en musiekvideo wat jy beslis wil sien en hoor!
