Talle Afrikaanse kunstenaars en bekendes het op 18 Februarie by die pragtige Diemersfontein-wynlandgoed net buite Wellington saamgekom vir die Vonk Musiek Erkenningsaand. Hierdie eksklusiewe geleentheid was ’n viering van talent en prestasie, met die tema “fotogenies” wat ’n luukse en stylvolle atmosfeer vir die aand geskep het.
Die gewilde akteur en TV-aanbieder, Arno Greeff, het die geleentheid aangebied, terwyl gaste ’n gesellige ete en uitsonderlike musiekvertonings geniet het. Die aand is op ’n treffende noot geopen deur die legendariese Dozi en sy seun, Storm, met hul aangrypende weergawe van Pink Floyd se ikoniese treffer, “Wish You Were Here”. Ander kunstenaars wat die gehoor betower het, sluit in Tino, Vrede, Jakkie Louw en Herman Kleinhans. ’n Spesiale hoogtepunt was die duet “Suid,” wat deur Juan Boucher en Tasché opgevoer is.




Die aand se kern was die erkenning van kunstenaars vir hul prestasies in die Afrikaanse musiekbedryf. Toekennings is toegeken op grond van stroomgetalle op digitale platforms en musiekvideo-kyke op YouTube, en kunstenaars is vereer in vier statusvlakke: Goud, Platinum, Dubbel Platinum en Multi-Platinum. Van die sterre wat toekennings ontvang het, sluit in Armand Steenkamp, Zaan Sonnekus, Tino, Nicholis Louw, Herman Kleinhans, Twee, WG Nel, Tasché, Deon Groot, Jakkie Louw, Jan Rhaap, Wouter van de Venter, Jan Blohm en Juan Boucher. ’n Spesiale mylpaal is bereik toe Spoegwolf, wat onafhanklik funksioneer, vir die eerste keer erkenning ontvang het vir hul indrukwekkende stroomprestasie.













Sosiale media het ook sy stempel op die aand afgedruk, met spesiale toekennings aan digitale smaakmakers wat Afrikaanse musiek help bevorder. Lisa met die rooi hare, Mienke Ehlers en Zaan Sonnekus is geloof vir hul bydraes en betrokkenheid by die groei van die bedryf op aanlyn platforms.


Die FAK het van die geleentheid gebruik gemaak om twee musieklegendes, Richard van der Westhuizen en Valiant Swart, te vereer vir hul uitsonderlike bydrae tot Afrikaanse musiek. Voelgoed Media het ook die talentvolle Andriëtte erken met ’n spesiale toekenning vir haar musiekloopbaan.


’n Onvergeetlike oomblik van die aand was die oorhandiging van die eerste Stamboom-toekenning aan Wimpie van der Sandt van Bok Radio. Hierdie toekenning word toegeken aan individue wat ’n diepgewortelde bydrae lewer tot die bevordering van Afrikaanse taal, kuns en kultuur. Van der Sandt is vereer vir die rol wat Bok Radio en die gewilde Bok-boottoere speel in die bevordering van Afrikaanse musiek. In ’n spesiale tradisie sal hy volgende jaar se wenner self aanwys.

Die Vonk Musiek Erkenningsaand het eens te meer bewys dat Afrikaanse musiek nie net groei en ontwikkel nie, maar ook ’n kragtige gemeenskap van talent en passie skep. Dit was ’n aand gevul met trots, glans en onvergeetlike musiekmomente wat nog lank in die geheue van aanwesiges sal voortleef.
