Bennie Kotze, beter bekend as BigBen, is terug met nog ’n skreeusnaakse liedjie. Sy nuwe komiese liedjie, “Pilansberg”, is pas vrygestel en beloof om luisteraars te laat skaterlag met sy kenmerkende humor en lawwe storielyn.
Volgens BigBen gaan die liedjie oor sy reis na Pilansberg, maar met ’n humoristiese kinkel. “Ek is in die berge op soek na Pilansberg. Ek wil ’n bietjie rus en wegbreek van die stad se gejaag. En net ontspan op Pilansberg,” verduidelik hy. Maar hy is nie alleen op hierdie soektog nie – daar is ook ’n dame wat dieselfde doel het. “Sy is moeg gewerk en wil ook net rus en ontspan,” voeg hy by.
In ’n klassieke BigBen-wending, kruis die twee se paaie op pad na Pilansberg. Die oomblik van ontmoeting gebeur op die N4 se afdraai, waar die dame skielik konsentrasie verloor – en die afdraai mis – omdat sy vir BigBen in sy speedo sien. Dit lei tot ’n snaakse situasie waarin sy hom uiteindelik ’n saamry-geleentheid gee na Pilansberg.
BigBen waarsku egter dat die liedjie nie vir sensitiewe luisteraars bedoel is nie en met ’n knippie sout opgeneem moet word. “Ek wil net mense laat lag. Humor en lag is ’n goeie middel om te ontspan en die oomblik te geniet,” sê hy.
BigBen het homself gevestig as een van Afrikaans se voorste komiese kunstenaars. Hy droom daarvan om Suid-Afrika se eerste volwaardige parodie-kunstenaar te word, en met treffers soos “Braai In Die Reën”, ’n snaakse weergawe van Karlien van Jaarsveld se “Dans In Die Reën”, is hy goed op pad. Hierdie parodie het reeds meer as ’n miljoen kyke op YouTube en bewys dat sy skerp humor en vindingryke lirieke ’n wenresep is.
Met “Pilansberg” bring BigBen weer sy unieke styl na die voorgrond, en een ding is seker – luisteraars gaan op ’n avontuur van lag geneem word.
