Mari Bosman se jongste enkelsnit, “Hanna”, is onlangs uitgereik – ’n vrolike, tong-in-die-kies kuierliedjie wat die volle krag en vermoëns van die Afrikaanse vrou vier. Hierdie energieke snit bring ’n vars perspektief na die musieklandskap en herinner luisteraars op ’n ligte, maar kragtige manier dat vroue in enige situasie kan uitblink.
Met lirieke wat humor en trots kombineer, neem Mari luisteraars op ’n reis deur die plaaslewe. Die lied vertel die storie van ’n vrou wat met selfvertroue wys dat sy alles kan doen wat ’n man kan – en soms selfs beter. Of dit nou visvang, vuurmaak, of kolskoot skiet is, “Hanna” vier die onafhanklikheid en veelvlakkigheid van vroue. “Wat die manne kan doen, kan ons boere’nonnatjies ook doen!” sê Mari met ’n knipoog.
LEES OOK: Mari Bosman soek ’n ‘man soos haar pa’
Mari beskryf “Hanna” as ’n liedjie wat vrouens inspireer om trots te wees op hulself en hul vermoëns. “Ek wou wys dat vrouens nie net agter die stoof hoort nie,” verduidelik sy. “Ons het die krag om ons eie dinge te doen en uit te blink.”
Die enkelsnit is vervaardig deur die talentvolle Tertius Human, wat Mari se visie met fyn aanvoeling vervul het. “Tertius het die perfekte balans tussen tradisionele en kommersiële Afrikaanse klanke geskep,” sê Mari. Die energieke ritme en plaasgeïnspireerde lirieke maak dit ideaal vir ’n Desember-vakansie, en luisteraars sal nie kan wag om die dansvloer te tref nie.
Met “Hanna” het Mari‘’n meer kommersiële rigting ingeslaan, sonder om haar persoonlike styl en humor prys te gee. Sy noem dat die skryf van hierdie liedjie haar as kunstenaar laat groei het. “Dis ’n lied wat wys dat ek veelsydig is en aan nuwe idees kan werk,” sê sy.
Hierdie snit is net die begin van ’n opwindende 2025 vir Mari. Sy beplan om in Februarie ’n emosionele ballade vry te stel, gevolg deur ’n spesiale lied in Mei ter viering van Afrikaans se 100-jarige herdenking.
Met lirieke soos:
“Ek kan visvang en ’n tyre ruil, kan kolskoot skiet en saggies huil…”
vang Mari die essensie van die moderne vrou. Die liedjie dra ’n positiewe en bemagtigende boodskap wat luisteraars inspireer om trots te wees op wie hulle is.
“Hanna” is nou beskikbaar op alle musiekplatforms. Luister dit en deel in die vreugde en trots van Mari se nuutste meesterstuk.
