Johan Anker, die talentvolle sanger wat in 2017 die harte van kykers gewen het met sy kragtige vertoning op The Voice SA, betree die feestyd met ’n splinternuwe oorspronklike enkelsnit, getiteld “Briefie vir Kersfees”. Hierdie lied, wat Anker self geskryf het, het ’n diep persoonlike betekenis en bring troos en emosie vir almal wat verlang na geliefdes tydens Kersfees.
Anker se verhaal agter die lied is roerend. Hy het aan “Briefie vir Kersfees” begin werk kort na die skielike verlies van sy oom net voor Kersfees in 2020. Wat hy destyds nie geweet het nie, was dat sy laaste Kersfees saam met sy pa ook in daardie jaar sou wees, aangesien sy pa in Augustus 2021 weens COVID-19 oorlede is. Dit was een van die moeilikste tye in sy lewe, en Kersfees het vir hom ’n besonder emosionele geleentheid geword, gekenmerk deur die verlies van twee groot figure in sy lewe. “Ek het toe my emosies op ’n persoonlike manier uitgedruk deur ’n liedjie te skryf,” deel hy openhartig.
Die lirieke van “Briefie vir Kersfees” roep baie nostalgie op, en die melodie weerspieël die stemming van verlange. Anker se kenmerkende stem dra hierdie emosies na die luisteraar oor, en die liedjie het reeds mense se harte aangegryp deur hulle te laat droom oor wat hulle sou skryf as hulle die kans het om ’n brief Hemel toe te stuur. “Baie mense voel alleen met Kersfees of verlang na nog ’n oomblik saam met ’n geliefde,” sê hy, en hierdie lied dien as ’n troos vir hulle wat Kersfees dalk sonder iemand spesiaal moet deurbring.
Vir die produksie van hierdie besonderse lied het Anker weereens saamgewerk met die bekende musiekvervaardiger Sean Butler, wat ook gewerk het aan die musiek van kunstenaars soos Romanz, Nianell, Kurt Darren, en Brendan Peyper. Saam het hulle die lied in ’n moderne styl vasgevang terwyl die tradisionele klank van Kersfees, soos Kersklokkies en elemente van “Jingle Bells”, subtiel by die snit geïntegreer is.
Die vrystellingsdatum van vroeg in November is betekenisvol gekies om saam te val met sy pa se verjaardag op 5 November, wat Anker se herinneringe aan sy pa met die lied verbind. “In my drome sien ek hom van daar bo af luister met ’n glimlag,” verklap hy.
“Briefie vir Kersfees” is nie net ’n Kerslied nie, maar ’n viering van Anker se vermoë om deur sy musiek aan sielsdiep temas te raak. Dié enkelsnit volg in die voetspore van sy ander gewilde treffers soos “Hoop en Bid”, “Soldaat”, “Die Seën”, en “Ek Belowe” saam met Sasha-Lee Davids, wat ook groot byval op radiostasies en aanlyn platforms gevind het.
Die afgelope agt jaar het Johan homself stewig in die Afrikaanse inspirasie- en gospelmusiekbedryf gevestig en talle AfriIndi-toekennings ingepalm. Buite sy musiekloopbaan is hy ook ’n akteur met ’n BA-graad in Drama van Stellenbosch, waar hy onder die gesag van regisseurs soos Marthinus Basson opgelei is. Deesdae is hy die Departementshoof van Engels Huistaal by Parktown High School for Girls in Johannesburg.
Anker het groot planne vir die toekoms en werk tans aan nuwe musiek vir ’n kortspeelplaat. Hy is vasberade om ’n lang en betekenisvolle bydrae tot die Suid-Afrikaanse musiekbedryf te maak, met die hoop dat sy musiek blywende vreugde en troos sal bring vir almal wat luister. “Briefie vir Kersfees” is beslis ’n waardevolle toevoeging tot enige Kersfees-spellys en sal diep spore in die harte van luisteraars laat.
