Irene-Louise van Wyk het die afgelope paar jaar haar merk gemaak met ’n reeks treffers wat haar aanhangers voluit laat saamsing en sokkievloere aan die brand laat dans. Haar liedjies, soos “Stout Vir…,” “Waar Gaan Ons Dans Vanaand,” en “Reguit Dans,” het almal ’n besondere energie en lewenslus wat ’n fees van vreugde by enige partytjie waarborg.
LEES OOK: Irene-Louise van Wyk verruil haar tekkies vir ’n paar boots!
Met 18 kilogram afgeskud en vol nuwe energie, is Irene-Louise terug met ’n splinternuwe enkelsnit, “Jan Asseblief”, wat op 1 November 2024 uitgereik word. Saam met die enkelsnit stel sy ook ’n musiekvideo vry om die storie agter die liedjie verder te illustreer en aan haar aanhangers visueel te bring. Hierdie snit put inspirasie uit die nostalgiese koorlyn “Jan asseblief tog squeeze my” uit die oorspronklike liedjie, maar Irene-Louise bied ’n vars en moderne weergawe met ’n nuwe storielyn wat elke Jan daar buite aanspreek.
“Jan Asseblief” is nie net ’n herwerking van die oorspronklike treffer deur Chris Blignaut nie, maar ’n kreatiewe samevoeging van ou en nuwe invloede. Irene-Louise het saam met Emil Paul gewerk om die lirieke te vernuwe en die storie byderwets te maak. Die liedjie is vervaardig deur Dirk van Niekerk, wat sy unieke klank en tegniese vaardigheid ingespan het om die snit lewendig en vol energie te maak.
Irene-Louise se aanhangers kan uitsien na nóg ’n prettige treffer wat beslis gereed is vir die Desember-vakansie en partytjies. “Jan Asseblief” beloof om ’n gewilde toevoeging tot enige speellys te wees, veral vir diegene wat hou van ’n goeie beat en lirieke wat maklik aansteek. Dit sal aanhangers nie net herinner aan die oorspronklike liedjie nie, maar ook ’n nuwe dimensie gee aan ’n ou gunsteling.
Maak dus seker dat “Jan Asseblief” op jou speellys is vanaf 1 November – dit gaan ’n onvergeetlike deel van jou Desember-vakansie wees.
Kyk die musiekvideo hier: