Jan Bloukaas, die talentvolle sanger en liedjieskrywer wat aanhangers se harte verower het met treffers soos “Sterre Brand” saam met Janie Bay, “Kaas Elke Dag,” en “Stellenbosch,” stel vandag die eerste enkelsnit vanaf sy opkomende en laaste album bekend. Die liedjie, getiteld “Vlug,” is die begin van ’n diep persoonlike reis wat Jan met sy laaste werk wil deel.
Dié album, wat met die treffende titel “God Kan” gedoop is, is vir Jan baie spesiaal. Sy vriend en projekbestuurder, Deon Dee, verduidelik: “Een van Jan se laaste wense was om nog een laaste album uit te reik vir sy aanhangers, maar ook om iets blywend vir sy familie agter te laat.” Hierdie projek is moontlik gemaak deur ’n Back a Buddy-fonds wat deur Deon en Janie Bay gestig is, met groot dankbaarheid vir die ondersteuning wat hulle ontvang het. Die fonds het onlangs sy doelwit bereik, maar bly oop vir verdere donasies, aangesien alle oortollige fondse aan CANSA geskenk sal word.
Jan se album is ’n laaste liefdesgawe aan sy ma en pa, met ’n deel van die opbrengs wat ook na CANSA sal gaan, ’n doel wat hom na aan die hart lê. Aanhangers kan ook uitsien na verskeie samewerkings op “God Kan,” wat hierdie projek ’n ware viering van Jan se musikale erfenis maak.
Die vrystelling van “Vlug” merk die begin van hierdie spesiale album en is ’n emosionele, maar kragtige afskeid van ’n kunstenaar wat diep spore in die Afrikaanse musieklandskap getrap het.
Jan Bloukaas is in September 2022 met breinkanker gediagnoseer. Ten spyte daarvan dat die kanker steeds voortwoed, veg hy met onverskrokke moed voort. Vroeër hierdie maand het hy sy 25ste verjaardag gevier en op Facebook gedeel: “My katte… ek kan dit nie glo nie. Ons het dit gemaak deur elkeen van julle se gebede en God se soet genade.”
- “Vlug” is nou beskikbaar op alle stroomdienste soos Apple Music, Spotify en Deezer.
