Janie Bay, bekend vir treffers soos “Sterre Brand” (met Jan Bloukaas) en “Ek Glo Nog In Jou” (met Danie Reënwolf van Spoegwolf), en die legendariese skrywer en lid van Die Heuwels Fantasties en Fokofpolisiekar, Hunter Kennedy, span weer kragte saam vir hul tweede enkelsnit getiteld “Ons Verander”. Hierdie liedjie volg amper presies sewe jaar ná hul vorige samewerking, “Wag Vir Jou”, wat in 2017 uitgereik is.
Volgens Janie het sy die idee vir die liedjie aan Hunter voorgelê, met ’n melodie en akkoorde, maar sonder lirieke. “Ek het vir hom gevra of hy saam met my die liedjie wil skryf en uitreik, en hy het ja gesê,” vertel Janie opgewonde oor die projek.
Hunter, wat bekend is vir sy diepgaande lirieke, deel sy gedagtes oor die tematiek van die liedjie: “Verandering is ’n konstante. Tog baklei ons as mense altyd daarteen. Ek dink met die liedjie verwelkom ons verandering. Verandering vir die beter.”
Die liedjie se boodskap spreek tot die universele stryd teen verandering, maar met ’n uitnodiging om verandering te aanvaar as ’n pad na verbetering. Dit pas in by die huidige globale klimaat, waar konstante verandering deel van ons daaglikse lewens geword het.
“Ons Verander” beloof om weereens Janie en Hunter se magiese sinergie vas te vang, en word op Vrydag, 27 September, uitgereik.