Op Vrydag 27 September gee die sangeres Cordelia vir haar aanhangers (en countrymusiek-liefhebbers) ʼn langverwagte Afrikaanse liedjie wat enige country-hart vuurwarm sal laat klop.
“As ek kon kies” is ʼn oorspronklike country-snit uit die liedjieskrywer en vervaardiger Ernie Bates se pen. Ernie het ook dié snit opgeneem en vervaardig.
Cordelia het onlangs wêreldwyd opslae gemaak het met haar weergawe van Carlene Carter se “Every little thing”. Die musiekvideo vir die liedjie is al meer as 1,5 miljoen keer gekyk sedert dit sowat vier maande gelede uitgereik is.
Kyk die musiekvideo vir “Every little thing” hier:
“As ek kon kies” is ʼn romantiese ballade wat die ware liefde beskryf tussen twee mense wat wens hulle lewens het so uitgedraai om bymekaar te kon wees.
Die lied beskryf ware liefde tussen twee mense wat wens hulle lewens het so uitgedraai om bymekaar te kon wees.
“As die persoon ʼn keuse kon hê sou hy die liefde wat voor hom staan al vroeg in sy lewe wou ontmoet,” verduidelik Cordelia die boodskap van die liedjie.
Cordelia het voorheen getref met popliedjies soos “Mal in jou kop”, “Anker”, “Eerste woorde” en het onlangs groot sukses behaal met die oorspronklike Engelse country-snit “Love you as my own”.
“Dit is vir my lekker om oor liefde te sing en die mooi daarvan. Ek dink almal kan hieruit ʼn stukkie vat, want liefde kom tog glo ek op almal se pad.
“‘As ek kon kies’ het so ʼn mooi melodie en raak aan ʼn mens se hart. Afrikaans is so mooi en nog mooier as ons oor liefde kan sing.”
Gerduan Kemp is verantwoordelik vir die musiekvideo, wat later uitgereik sal word.
Cordelia beplan nie om haar cowboy-stewels binnekort uit te trek nie en sê ʼn country album is in die beplanningsfase om vroeg in 2025 uitgereik te word.
Sy is ook uitgenooi om in Ierland en Nieu-Seeland op te tree en is gefokus daarop om haar mark internasionaal uit te brei terwyl sy haar voete plat op die aarde in Suid-Afrika hou.
Haar country-uitreikings het vanjaar talle Spotify-benoemings ingeoes en sy het die country speellys, waar van die land se grootste name verskyn, oorrompel met vyf country-treffers.
Cordelia twyfel nie vir ʼn oomblik oor haar passie vir country musiek en die rigting wat haar sangloopbaan nou inslaan nie.
“As ek sien hoe mense my countrymusiek geniet is ek seker ek is nou waar ek wil wees.”