Ná die reuse sukses van sy vorige enkelsnit, Koffie in die kroeg, wat in twee maande meer as 70 000 keer gestroom is, maak Gerduan Kemp weer opslae met sy splinternuwe vrystelling, Alles Tot Nou. Hierdie dinamiese country-rock-liedjie dra ’n diep boodskap oor verhoudings, wat luisteraars van alle ouderdomme sal inspireer om nie moed op te gee wanneer uitdagings opduik nie.
“Wanneer dinge moeilik raak in ’n verhouding, moet jy vír mekaar eerder as téén mekaar baklei,” verduidelik Kemp oor die sentrale tema van die lied. Hierdie snit, wat in samewerking met Emil Paul geskryf is, kom voort uit Kemp se eie lewenservaringe. In die drie jaar wat hy geen nuwe musiek vrygestel het nie, het hy dikwels gewonder of hy ooit weer musiek sou maak. “Ek het op ’n dag by my klavier besef dat musiek steeds ’n integrale deel van my lewe is,” deel hy. Hoewel die liedjie oor liefde gaan, weerspieël dit ook sy persoonlike reis en hoe alles wat hy tot nou toe aangepak het, hom gebring het tot waar hy nou is.
LEES OOK: Gerduan Kemp vier sy terugkeer tot die musiekbedryf met nuwe idioom-enkelsnit
Die produksie van die lied is in die bekwame hande van Hugo Ludik by Muse Studios, terwyl Kemp self die omslagfoto geneem het en verantwoordelik was vir die musiekvideo. Kemp, wat ook bekend is as ’n talentvolle fotograaf en musiekvideovervaardiger, het ’n unieke benadering tot die video gekies. Hy het ou beeldmateriaal uit vorige musiekvideo’s gebruik om terugflitse te skep en die narratief te versterk. “Ek het die video in my garage verfilm, waar die omslagfoto ook geneem is,” sê hy.
Kyk die musiekvideo hier:
Met vyf enkelsnitte agter sy naam en meer as 2 miljoen strome op sy debuutalbum, het Kemp ’n gevestigde plek in die Afrikaanse musiekbedryf verwerf. Van sy bekendste treffers sluit in Sesde Sintuig, Langpad na Môre en Jou Tipe Jaloers. Sy passie vir musiek het reeds op skoolvlak begin, en sedertdien het hy die verhoog gedeel met van Suid-Afrika se grootste musieksterre.
Buiten musiek, bestuur Kemp ook sy eie besigheid, Gerduan Kemp Photo & Film, waarmee hy musiekvideo’s vir bekendes soos Brendan Peyper en Karlien van Jaarsveld vervaardig het. Hy werk tans aan nog ’n nuwe liedjie wat in Desember vrygestel sal word.
Alles Tot Nou is nie net ’n treffende snit nie, maar bevat ook ’n slim samestelling van die titels van sy vorige liedjies uit sy debuutalbum in die lirieke. Dit dra die boodskap dat jy moet veg vir diegene vir wie jy lief is, sodat hulle nie deur jou vingers glip nie. Met die sukses van sy vorige werk, is dit geen verrassing dat Alles Tot Nou reeds besig is om gewild te raak nie.
- Luisteraars kan nou Alles Tot Nou op alle digitale platforms stroom.