Shakira, die talentvolle sangeres wat haar merk in die Afrikaanse musiekwêreld gemaak het, het weereens die verhoog aan die brand gesing met haar splinternuwe enkelsnit getiteld Spook. Ná die sukses van haar debuutenkelsnit Disco, is haar jongste vrystelling gereed om nog meer opslae te maak. Hierdie vars snit, wat op 6 September 2024 amptelik uitgereik word, beloof om jou te betower en vir lank by jou te “spook.”
In ’n eksklusiewe onderhoud het Shakira gedeel hoe haar nuwe liedjie geïnspireer is deur daardie onvergeetlike oomblikke wanneer iemand spesiaal nie uit jou gedagtes wil wyk nie. “As ’n jong meisie, gebeur dit nogals gereeld dat ek ’n mooi ou iewers sien of ontmoet, en dan kan ek hom net nie uit my gedagtes uit kry nie. Mens kan rerig sê hy ‘spook’ by my… Dan is dit net die geval van of hy my gaan ‘ghost’ of nie,” lag sy terwyl sy verduidelik hoe die konsep vir die liedjie ontstaan het.
LEES OOK: Shakira Peach bring ’n sprankel na die Afrikaanse musiekbedryf met debuutsnit
Met lirieke wat reguit uit Shakira se hart kom, skep Spook die gevoel van ’n liefde wat jou nie wil laat los nie. Die eerste vers vertel reeds baie: “Ek dink jy sal my vir altyd haunt, in die huis in my kop, ek sien hoe jy nader kom en my hand vat, nooit gedink ’n hart kan so vinnig klop.” Hierdie lirieke resoneer diep met die emosie van iemand wat voortdurend aan ’n spesiale persoon dink en wonder of daar ooit iets meer gaan ontwikkel.
Shakira se kreatiwiteit en persoonlike aanslag bring ’n vars perspektief na die Afrikaanse popmusiek en die musiekvideo vir Spook is beslis iets om na uit te sien. In die video kan kykers verwag om saam met Shakira die reis van daardie spookagtige liefde te beleef, met ’n lekker speelse kant wat Shakira se unieke styl weerspieël.
Hou jou oë oop vir Spook en moenie verbaas wees as hierdie liedjie nog lank in jou kop bly draai nie – Shakira is hier om te bly en sy gaan beslis vir lank by jou spook!