Na die oorweldigende sukses van haar ikoniese treffer Bietjie Benoni, keer die geliefde Afrikaanse sangeres Lianie May terug met haar nuutste liedjie, Sing Kanarie. Hierdie energieke snit beloof om luisteraars se voete aan die beweeg te kry, en neem ons terug na die eenvoud en vreugde van kinderdae.
Die liedjie is tydens ’n kreatiewe sessie op ’n plaas geskryf, waar Lianie en Roux Cloete saamgewerk het om ’n nostalgiese storie te skep. Geïnspireer deur hul jonger jare, het hulle gesels oor die kattekwaad wat kinders dikwels op die plaas aangevang het. Dit het Lianie herinner aan die bekende kinderkarakter Trompie en die Bokserbende, en die onskuldige maniere waarop kinders dikwels in die moeilikheid beland het, maar steeds sjarmant en ondeund was.
Die liedjie se naam, Sing Kanarie, is geïnspireer deur ’n grappige herinnering van Roux, wie se ma altyd vir hom gesê het: “Jy gaan soos ’n kanarie sing,” wanneer hy iets stout aangevang het. Hierdie sêding het ’n speelse toon aan die liedjie gegee en die storie agter die lirieke verder versterk.
Die musiekvideo van Sing Kanarie bring hierdie nostalgie tot lewe deur twee kinders uit te beeld wat hul dae op ’n plaas geniet en die kattekwaad aanvang wat vir vele van ons deel was van kinderdae. Lianie se doel is om luisteraars terug te neem na hul eie herinneringe en vir ’n oomblik die probleme van die lewe te laat vergeet. Die tong-in-die-kies lirieke en die vrolike video bring ’n ligte, opbeurende atmosfeer wat sekerlik ’n glimlag op jou gesig sal sit.
Met byna 18 jaar in die Afrikaanse musiekbedryf, bly Lianie steeds die energieke en opregte plaasmeisie wat in 2007 ’n oornag sukses geword het. Sing Kanarie bevestig weer eens haar vermoë om met haar musiek die harte van haar aanhangers te verower.