Tuimeltrein, die dinamiese duo van Christian Venter en Marice de Jager, is terug met ’n nuwe treffer wat sekerlik die luggolwe gaan oorneem. Hulle het hul musiekloopbaan begin met die aansteeklike enkelsnit Grondboontjiebotter, en nou staan hulle gereed om aanhangers te verras met hul jongste vrystelling, Dis ’n Joke, wat op 23 Augustus 2024 uitgereik word.
Hierdie nuwe liedjie is ’n ware produk van passie en kreatiwiteit, geskryf deur Christian en Marice self. Die lied het aanvanklik op TikTok opgeduik, waar dit vinnig aanhangers se harte verower het. Die belangstelling was so groot dat volgelinge keer op keer gevra het dat die liedjie opgeneem en vrygestel moet word. Met die talentvolle Tertius Human agter die vervaardiging, is daar min twyfel dat hierdie liedjie ’n treffer sal wees.
Dis ’n Joke bring ook ’n visuele bederf in die vorm van ’n musiekvideo wat in ’n klaskamer afspeel. Hier sien ons twee pelle wat die voor- en nadele van liefde luidkeels uitroep, en uiteindelik tot die gevolgtrekking kom dat “liefde eintlik ’n joke” is.
Die koor se lirieke eggo hierdie sentiment:
“Jy sê jy’s lief vir my, maar jy ken my nie,
Enige iets vir my, maar jou tyd is te duur,
Jy is die een vir my, ja ek voel die vuur,
Maar dis nou verby, so, wat maak jy nog hier?
Dis ’n joke, dis ’n joke.”
Vanaf 23 Augustus moet jy Dis ’n Joke kliphard speel, want hierdie snit is alles behalwe ’n grap. Tuimeltrein is terug, en hulle is hier om weer eens die musiekbedryf op sy kop te draai.