Maandag, 19 Augustus 2024 was die eerste herdenking van Angie oeh se tragiese dood op 24-jarige ouderdom aan kanker. Hierdie maand sal haar steeds groeiende skare aanhangers haar onmisbare stem egter op 14 nuwe liedjies kan hoor.
Angie was kort voor haar skielike afsterwe besig om die amptelike klankbaan van die baanbrekende Showmax Original-universiteitsdrama, Wyfie, saam met Peach van Pletzen op te neem. Die klankbaan, waaraan kunstenaars soos Biggie, Early B, Hanna en Jack Parow ook saamgewerk het, is vanaf later hierdie maand op alle goeie musiekplatforms beskikbaar.
“Toe Angie studio toe gekom het en die idees op die mic gesit het, kon ek dadelik voel ons is met iets spesiaal besig,” sê Peach. “Angie se stem is een van die mees diepgaande mooi stemme wat ek al ooit opgeneem het. Om saam met Angie te kon werk, is ’n tyd wat my ewig sal bybly. Ons het haar gedurende die proses verloor, so daar is baie emosie rondom van die musiek. Ek moes meeste van dit voltooi ná sy weg is. Sy het haar stem by my gelos en dís ’n groot geskenk en eer vir my. Sy was baie trots op die werk en ek is ook.”
Met die ondersteuning van Showmax en Angie se span, het Peach na die studio teruggekeer om die klankbaan in vollengte liedjies te omskep. “Om hierdie liedjies te herbesoek was ’n pragtige, uitdagende en katartiese ervaring,” sê Peach. “Al was Angie nie meer fisiek daar nie, het ek steeds haar sterk teenwoordigheid deur die hele proses gevoel. Dit bring my groot vreugde om uiteindelik hierdie musiek met die wêreld te kan deel.”
Twee enkelsnitte is reeds vrygestel: die danssnit Fishy Pumpi, waarop Angie Oeh vir die eerste keer in Engels gesing het, en Kerkmeisie Kyla (Ratata), met Jack Parow. Laasgenoemde liedjie is na Kristen Raath se karakter op dié universiteitstelenovela vernoem.
Onder die ander kunstenaars wat op die klankbaan verskyn, tel Kay Faith en Yesterday’s Pupil.
Stroom “Fishy Pumpi” op jou gunsteling-platform
Stroom “Kerkmeisie Kyla (Ratata)”
Kyk hierdie kort dokumentêr oor hoe die Wyfie-klankbaan geskep is:
Benewens die klankbaan, het Showmax ook ’n nuwe musiekvideo vir Angie se kultustreffer, Dis Jou Wyfie, vrygestel. Die musiekvideo is deur Homebrew Films, ook die produksiemaatskappy wat vir Wyfie verantwoordelik is, vervaardig. Die reeks se sterre, Beáta Bena Green, Celeste Loots, Kristen Raath en Mienke Ehlers, verskyn in die video.
“Dis Jou Wyfie was haar eerste enkelsnit,” sê Peach. “Dit is ’n liedjie wat sy self geskryf, opgeneem en vervaardig het. Die snit het ’n kultusaanhang opgebou en is nou al ’n tipe van ’n temalied vir die misfits. Angie het ’n groter impak gemaak as wat mense besef. Die feit dat die reeks Wyfie genoem is, getuig ook daarvan.”
“Angie was die inspirasie vir Wyfie se titel, asook ’n groot deel van die reeks se houding,” bevestig Johan Cronjé, die hoofregisseur van beide die reeks en die musiekvideo. “Die musiek wat sy en Peach vir Wyfie geskep het, is spookagtig mooi. Om haar as deel van die klankbaan te hê, is vir my ongelooflik waardevol: hartseer en pragtig terselfdertyd.”
Kyk die musiekvideo vir Dis Jou Wyfie:
Die Wyfie-span het die afgelope Donderdag nog ’n hartseer terugslag ervaar nadat een van dié reeks se vervaardigers, Burgert Müller, op sy 63ste verjaardag oorlede is.
“Homebrew Films en die hele Wyfie-span is ongelooflik hartseer oor die skielike heengaan van Burgert, ’n mentor en ’n bron van kennis vir so baie van ons. Burgert was nie net ’n visioenêre, ’n kalm en ervare leier nie, maar ook ’n gerespekteerde lid van ons span. Sy merkwaardige bydraes tot die televisiebedryf, veral in die sepie- en telenovela-genres, het ’n onuitwisbare merk gelaat wat sal aanhou om ons te inspireer. Ons dink aan sy susters, Susan en Ronel, sy lewensmaat, Christiaan, en al Burgert se kollegas, vriende en geliefdes gedurende hierdie ongelooflike moeilike tyd. Sy nalatenskap en bydrae tot die bedryf sal ’n blywende impak hê op almal wat die voorreg gehad het om hom te ken,” sê Jaco Loubser, uitvoerende hoof van Homebrew Films.
Nicola van Niekerk, waarnemende hoof van inhoud by Showmax, sê: “Burgert was ’n groot rolspeler in die land se televisiebedryf en het ’n besonderse invloed gehad op almal wat ooit die voorreg gehad het om met hom te werk. Sy afsterwe laat ’n groot leemte in die bedryf waarin hy so ’n enorme rol gespeel het; van reekse soos Wyfie tot M-Net se Egoli. Sy kalmerende houding en die veilige atmosfeer wat hy op elke stel geskep het, gaan ’n reuse-leemte los. Ons innige medelye gaan aan sy geliefdes, familie en vriende gedurende hierdie moeilike tyd.”
- S2 van Wyfie stroom nou op Showmax, met nuwe episodes wat elke Dinsdag vrygestel word.