Len Muller het homself in die afgelope dekade as ’n meester van diep, emosionele musiek gevestig. Sy nuutste enkelsnit, Jy’s Okay, is ’n kragtige bewys van sy talent om lirieke te skryf wat reg in die harte van luisteraars tref.
Na ’n uitdagende tyd van hartseer en verlies saam met sy vrou, Chanél, het Muller Jy’s Okay geskryf. Hy het die lied geskep om nie net sy vrou, maar ook homself te troos. “Dit was een van die seerste dinge waardeur ons as familie moes gaan,” sê Muller. “Ek wou ’n lied skryf om ons te bemoedig om die pyn te voel en nie weg te hardloop van die moeilike dinge nie, want dit is ’n geleentheid om te groei en sterker te word.”
LEES OOK: ‘Oorgenoeg’ is Len Muller se beste werk nóg!
Die liedjie is vervaardig deur Theo Crous van Belville Studios, wat bekend is vir sy werk met kunstenaars soos Prime Circle, Karen Zoid en Chris Chameleon. Crous het die emosie van die lirieke meesterlik in die melodie vasgevang, wat die snit se impak verder versterk.
Muller het die lied oor ’n paar maande op die klavier gekomponeer, en dit het begin as ’n wysie wat in sy gedagtes ontstaan het. “Ek dink baie mense het al soortgelyke hartseer ervaar en kan aanklank en vertroosting vind in die snit. Vir die volgende persoon kan dit dalk iets heeltemal anders beteken, en dis ook okay,” verduidelik hy.
Die musiekvideo vir Jy’s Okay is ’n besonderse, intieme werk wat binnekort beskikbaar sal wees. Dit is by Muller se eie huis in die Kaap verfilm en sluit tonele van hom alleen voor die klavier en saam met ’n orkes in.
Jy’s Okay volg in die voetspore van ander radiotreffers, insluitend Vrede, wat gebruik is as die temalied vir die kykNET-sitkom Mense Mense en vir ’n Huisgenoot Tempo-toekenning benoem is. Hierdie enkelsnit is ook die eerste vrystelling vanaf sy komende kortspeelplaat, Arende en Engele, wat later vanjaar uitgereik sal word en spesifiek geskryf is vir sy vrou en seuntjie.
Volgens Muller sal die kortspeler “akoesties, rou en hoopvol” wees, en hy glo dat enigiemand wat van eerlike musiek met dieper betekenis hou, dit sal geniet.
Sedert die begin van sy loopbaan het Muller se musiek meer as 2 miljoen keer op Apple Music gestroom, en hy het tans ongeveer 50 000 maandelikse luisteraars op Spotify. Hy het nie net die kans gekry om saam met bekende musikante te werk nie, maar ook om op groot musiekverhoë op te tree.
Wanneer hy nie besig is met sy eie musiek nie, is Muller ’n betrokke pa en besit hy sy eie eksklusiewe agentskap, Len Muller (Pty) Ltd, wat die bestuur en besprekings van kunstenaars soos Juan Boucher en Danie du Toit (Reënwolf) hanteer. Hy is tans besig om aan ’n vollengte album te werk en optredes te reël om sy nuutste musiek met sy aanhangers te deel.
Jy’s Okay is een van daardie liedjies wat hoop en troos sal bring vir enigiemand wat daarna luister en dit nodig het. Kry die enkelsnit op alle digitale stromingsplatforms.