Na ’n geruime tyd van stilte, is Refentse terug met ’n splinternuwe enkelsnit wat op Vrydag, 9 Augustus 2024, vrygestel word. Die liedjie, getiteld Blue Tick, beloof om die musiekliefhebbers se aandag te trek en bring Refentse se kenmerkende klank terug na die voorkant van die musiekbedryf.
Blue Tick is geskryf deur Refentse self en vervaardig deur Olly van Schalkwyk van Ollyvans Studios. Die liedjie verken ’n tema wat baie mense goed ken: die situasie wanneer jy iemand se boodskap op “read” los omdat jy onseker is oor hoe om jou gevoelens te uit te druk, of dalk omdat jy bang is vir die moontlike reaksie.
Refentse verduidelik: “Ek is nie iemand wat ’n ander persoon sommer op ‘read’ sal los nie. Maar soms weet jy nie wat om dadelik terug te stuur nie of hoe om regtig te express hoe jy voel nie. Soms is mens bietjie bang vir die reply daarop.”
Musikaal gesien, herinner Blue Tick aan Refentse se oorspronklike klank, met ’n elektrofied ballade wat neig na pop, en wat ons laat dink aan sy vroeëre treffer, Reisiger. Hierdie vars enkelsnit bied ’n electrifying ervaring wat verfrissend en herkenbaar is.
Maak seker jy mis nie Refentse se Blue Tick op 9 Augustus 2024 nie. Luister na die liedjie, en stuur dit dalk aan iemand wat jou nog ’n antwoord skuld – jy mag dalk ’n bietjie meer as net ’n melodie terugkry!