Mense gee soms voor om iets te wees wat hulle nie is nie – óf om perfek te wees – omdat hulle nie ander wil teleurstel nie. In haar nuutste enkelsnit, Pulling Teeth, ondersoek die sanger en liedjieskrywer Carla Strauss dié universele ervaring vanuit ’n persoonlike perspektief.
“Ek het die liedjie geskryf gedurende ’n tyd waar ek moes vrede maak met myself en my emosies,” verduidelik sy. “Alhoewel dit baie persoonlik is, het die meeste mense tog al gevoel dat hulle moeg is daarvoor om op te tree soos wat ander van hulle verwag. Ek dink dit is menslik om te voel dat jy nie ander mense wil teleurstel nie.”
Vir dié jong musikant was dit nog altyd ’n probleem. “Vir ’n baie groot deel van my lewe, en selfs nou nog, voel ek dat ek altyd perfek moet wees om te voldoen aan ander mense se persepsies en verwagtinge. Daar is altyd daardie vrees dat ek iemand in die steek gaan laat. Ek het egter besef dat as ek konstant probeer om te wees wat ander van my verwag, ek nie werklik myself kan wees nie. Ek moes bepaal of die persoon wat ander sien en die persoon wat ek wil wees, dieselfde is. Pulling Teeth is my manier om te sê dat ek wil doen wat ek wil sonder om bekommerd te wees dat ek iemand gaan teleurstel.”

Die enkelsnit, wat deur Carla en Ludwig Bouwer van One Big Room vervaardig is, kom vanaf haar nuutste kortspeler, Projections, en volg in die voetspore van haar vorige liedjies in terme van opregtheid en emosie. “Ek het die liedjie geskryf terwyl daar groot veranderinge in my lewe plaasgevind het, en ek wou so opreg en rou wees daaroor as moontlik. Dit is dus soos ’n dagboekinskrywing wat ’n belangrike deel van my lewe opsom.”
Sy meen dat alhoewel Pulling Teeth nie noodwendig ’n poptreffer is waarna mense herhaaldelik sal luister nie, dit wel sterk emosies ontlok waarmee baie luisteraars sal kan vereenselwig. “Ek glo daar is baie mense wat hulself sal kan sien in wat ek geskryf het. Ek dink daardie gevoel van ‘ek wil meer wees as wat ander mense sien’ is meer algemeen as wat ons besef. Ek hoop my liedjie laat luisteraars verstaan dat hulle nie alleen is in wat hulle voel nie.”
Pulling Teeth is haar sesde enkelsnit. Dié geesdriftige jong kunstenaar het op 16-jarige ouderdom haar debuut met die enkelsnit Midnight Train gemaak. Sy het sedertdien heelwat erkenning vir haar musiek ontvang – een van haar liedjies, Break My Bones, is selfs deur ’n Franse kunstenaar hervermeng. Sy was ook deel van die groep One Voice, wat in 2019 ’n suksesvolle album vrygestel het. Hulle het in 2020 saamgewerk aan ’n teenboelielied vir Child Protection Hotline, I Will, wat Carla in 2022 saam met Kalinka Kilian opgeneem en vrygestel het.
Dié 23-jarige van Centurion beskou haar lirisme as die kern van haar kuns, ’n feit wat weerspieël word in haar introspektiewe, opregte en roerende benadering tot liedjies skryf. As musikant hou sy egter aan groei en ontwikkel, en met elke nuwe snit wat sy vrystel, nooi sy luisteraars om die pad saam met haar te stap.
Carla tree op 3 Augustus in Centurion by die Champions 4 Charity, ’n boksgeveg vir liefdadigheid, op.
Pulling Teeth is nou aanlyn beskikbaar.
