Anton Goosen se nuutste album, Sirkels, is onlangs vrygestel en ons het met hierdie ikoniese figuur in Afrikaanse musiek gaan gesels daaroor.
LEES OOK: Geliefde Liedjieboer stel nuwe enkelsnit bekend
Wat het jou geïnspireer om Antjie Krog se gedig, Bly by my, te kies vir jou nuwe enkelsnit?
Dis ’n liefdesgedig – almal identifiseer met die begrip “liefde” en ek het gevoel dis die regte keuse vir die eerste enkelsnit. Ek het wel verskeie opinies ook ingewin en almal was eens dat dit die regte besluit is.
Hoe het die samestelling van Bly by my, (my lief) plaasgevind, veral met die byvoeging van ’n koorgedeelte?
Dis ’n gedig wat ek vir die Woordfees getoonset het. Gedigte is in vry vorm terwyl lirieke aan sekere reëls onderworpe is, dus het moes ek die koorgedeelte byskryf wat maar eintlik net holisties die titel beklemtoon.
Kan jy ons ’n blik gee op die kreatiewe proses agter die nuwe album, Sirkels, en hoe dit verskil van jou vorige werk?
Elke album sover het sy eie klank en dis vir my baie belangrik omdat ek nie aan “spoeg-en-plak” glo nie. Soos wat ek geskryf en gewerk het, het die album sy eie kleur begin aanneem. My samewerking met Illimar Neitz, my kitaarspeler en my vriend Peter Pearlson die maestro-ingenieur, het die inkleding vergemaklik.
Wat is jou hoop vir die impak van Bly by my, (my lief) op die Suid-Afrikaanse musiekbedryf?
Aanstaande jaar is Afrikaans se 100 jarige verjaardag as amptelike taal. Dit is vir my baie gepas dat die bekroonde digter Antjie Krog se gedig getoonset is en hopenlik huppel dit in die gehoor se ore…
Hoe het die samewerking met Peter Pearlson en Illimar Neitz bygedra tot die klank en gevoel van die enkelsnit?
Ons het as ’n baie nou eenheid saamgewerk om by die totale finale klank van die album uit te kom.
Kan jy vir ons ’n paar hoogtepunte deel van jou loopbaan tot dusver, veral diegene wat jou diep geraak het?
Ja, die SAMA-toekenning toe ek en Yvonne Chaka Chaka vir lewensbydra vereer is (en ons saam Pampoene Oppie Dak en Umgoboti gesing het), en die Akademie vir Wetenskap en Kuns se eeufees-medalje saam met Coenie de Villiers en David Kramer. En verlede jaar se inhuldiging by die Suid-Afrikaanse Gallery of Legends.
Wat was die grootste uitdagings wat jy ervaar het tydens die vervaardiging van hierdie nuwe album?
Die verkeersknope op die N2 vanaf Strand na die Academy of Sound naby die kasteel in Kaapstad.
Hoe sien jy jou rol as ’n ikoniese figuur in die Afrikaanse musiekbedryf en wat wil jy jou nalatenskap daar laat?
My ambag is om grootliks Afrikaanse liedjies neer te pen en te vertolk. As dit geslaag is, dan is ek uiters tevrede. As dit deur die luisteraars van Afrikaanse musiek geniet word, is dit ’n bonus.
Kan jy ons ’n voorsmakie gee van die temas en emosies wat ons kan verwag om te ervaar op die album, Sirkels?
Liefdesliedjies, ’n ballade of twee, ’n blues-talkie, rock en protes, en twee duette: een met Lise Swart en ’n Engelse een met Zolani Mahola.
Wat is jou hoop vir die toekoms van Afrikaanse musiek, veral met betrekking tot die volgende generasie musikante en liedjieskrywers?
Daar is hoop met ’n generasie nuwelinge wat progressiewe Afrikaanse musiek maak. Alles is nie bokkie-sokkie nie. Afrikaanse musiek is gesond en dit groei in verskillende genres en soos die digters sê “die soetste taal dans op die tong”.
- Anton Goosen se nuwe album, Sirkels, is nóú op alle digitale stroomdienste beskikbaar.
