Vivien Redelinghuys, wie se passie vir musiek reeds op ’n baie jong ouderdom begin het, is op die punt om ’n nuwe hoofstuk in sy musikale reis te betree. Op Vrydag, 31 Mei 2024, stel hy sy eerste Afrikaanse enkelsnit, Jonk & Danig, vry. Hierdie liedjie, wat ’n huldeblyk aan kosbare herinneringe en die essensie van die jeug is, is ’n samewerking wat in sy studentejare ontstaan het.
Redelinghuys se liefde vir musiek het begin toe hy net vier jaar oud was. Sy oupa het hom ’n klein kitaar en ’n mondfluit gegee, en hy het vinnig begin optredes hou vir sy familie op sy grootouers se bed. Hierdie vroeë blootstelling aan musiek het ’n blywende impak gehad en sy pad na ’n musikale loopbaan geplavei.
As kind het Redelinghuys sy ma na ’n Watershed-optrede vergesel, wat sy belangstelling in musiek verder aangewakker het. Dit was die geskenk van die kitaar en mondfluit van sy oupa wat sy liefde vir musiek verdiep het. “Ek het meestal op die kitaar geslaan en probeer sing, maar ek het gedink ek is die kat se snor,” sê hy glimlaggend.

As tiener het hy homself leer klavier speel, en teen die ouderdom van 18 het hy besluit om ernstig oor sy musiekloopbaan te raak. Sy tyd aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus, waar hy ’n BA-graad in sosiologie en arbeidsverhoudingebestuur verwerf het, was van kardinale belang in sy musikale ontwikkeling. Dit was ook hier waar hy ’n deurbraak gemaak het deur ’n oorspronklike liedjie te skryf saam met ’n vriend vir die Diaz Somerfees.
“Ons wou graag ’n oorspronklike liedjie skryf om by die feesterrein te sing. Uiteindelik is ons ook deur die gevoel van kosbare tye en herinneringe saam met vriende en familie geïnspireer,” verduidelik Redelinghuys. Hierdie inspirasie het gelei tot die skepping van Jonk & Danig, ’n liedjie wat die luisteraars aanmoedig om in die oomblik te leef en die spesiale tye saam met geliefdes te waardeer.
Redelinghuys beskryf Jonk & Danig as ’n viering van die jeug en die onbetaalbare oomblikke wat nie deur ’n foto vasgevang kan word nie. “Die liedjie herinner ’n mens om in die oomblik te leef. Dit is die gevoel wat ’n mens op ’n spesifieke tyd kry. Dáái gevoel en tyd wat ’n foto nie kan vasvang nie. Jy moet daar wees om dit te beleef,” sê hy.
Hy beklemtoon verder die vryheid en die unieke emosies wat ’n mens ervaar tydens hierdie spesiale oomblikke. “’n Mens waardeer die emosies wat jy ervaar. Jy lewe vir nou en dit wat jou gelukkig maak.”
Na jare van voorbereiding en toewyding, het Redelinghuys verlede jaar sy alternatiewe enkelsnit in Zaan Sonnekus se Son Studios opgeneem. Nou, met die vrystelling van Jonk & Danig, sien hy uit na wat die toekoms vir sy musiekloopbaan inhou.
Redelinghuys noem Zach Bryan, die Amerikaanse country-sanger, en die Suid-Afrikaanse groep Spoegwolf as sy rolmodelle. Hy hoop om dieselfde impak op sy luisteraars te hê as wat sy helde op hom gehad het.
Met sy diepgaande liefde vir musiek en ‘n sterk boodskap van vreugde en lewenslustigheid, is Vivien Redelinghuys gereed om ’n blywende indruk op die Afrikaanse musiektoneel te maak. Jonk & Danig is net die begin van wat beloof om ’n merkwaardige loopbaan te wees.
