Liezel Pieters is terug op die musiektoneel met ’n splinternuwe treffer, Singles, wat gewaarborg is om dansvloere regoor die land te vul. Ons Afrikaanse nasie hou van ’n aand uit, en dis presies wat Singles beskryf – die lewe is te kort, so geniet elke oomblik ten volle!
Hierdie aansteeklike liedjie is deur Liezel self geskryf, in samewerking met Stephan Hugo Botha, Pierre Botha, Marli Mulder, en Machiel Roets. Hierdie kragtige kombinasie van talent het ’n liedjie geskep wat jou voete sal laat jeuk. Die vervaardigers, Hugo Ludik en Nick Jordaan van Muse Studios, het met hul vaardighede gesorg dat Singles ’n ware pop treffer is.
Liezel Pieters is ’n ervare sanger-liedjieskrywer met ’n kragtige stem wat ’n verskeidenheid musiekgenres gemaklik kan aanpak. Haar ongelooflike verhoogteenwoordigheid en plat op die aarde persoonlikheid maak van haar ’n kragtoer in die Afrikaanse musiekbedryf. Haar loopbaan oor die laaste dekade het verskeie treffers opgelewer soos Miljoene Druppels, Sing My Hart Uit, en Waar Ek Hoort. Snitte soos Asemloos en Droë Riviere het reeds meer as drie miljoen kyke op YouTube, en haar onlangse vrystelling van Sterre saam met Gerhard Steyn klim huidiglik die trefferparades reg oor die land.
LEES OOK: Liezel Pieters gesels nuwe enkelsnit, video en Coleske Artists
Maar wat maak Singles so spesiaal? Die titel sinspeel op verskeie aspekte soos ’n musiek enkelsnit, ’n enkellopende persoon, en is oop vir jou interpretasie. Volgens Liezel kan jy single wees sonder om single te wees. “Soos baie Suid-Afrikaners wanneer hulle saam kuier, want selfs al is jy in ’n verhouding, kan jy steeds apart van mekaar kuier. Maar in hierdie geval is Singles ’n kombinasie van enige interpretasie, en dit maak nie saak in watter vorm van single jy is nie,” vertel Liezel.
Singles gaan jou beslis lus maak vir dans, jou laat saamsing, jou laat onthou, en natuurlik ook laat wonder hoekom jy weer so laat uitgebly het. Die liedjie is op alle stromingsdienste beskikbaar vanaf 31 Mei, met ’n musiekvideo wat op dieselfde dag vrygestel word. Maak dus seker jy luister Singles en beleef die pure vreugde wat Liezel Pieters se nuutste treffer bied.
Kyk die musiekvideo hier: