Ná die ongekende sukses van haar enkelsnit Hart Breek in Desember 2023, is Demi Lee Moore terug met ’n nuwe liedjie wat dieselfde aansteeklike countryklanke bevat. Die jongste enkelsnit, getiteld Net Myne, beloof om dieselfde diep emosies en sterk melodieë na vore te bring wat haar vorige treffers so gewild gemaak het.
“Net Myne gaan oor die tipe liefde wat deur enigiets kan gaan en sterker uitkom. Twee mense wat mekaar oor-en-oor sal kies. Twee mense wat so verskillend is, maar tog die beste in mekaar uitbring,” het Demi Lee gesê. Hierdie verklaring vang die kern van die liedjie vas – die onveranderlike krag van ware liefde wat alle uitdagings oorwin.
Op die vraag waarom sy voortbou op die sukses van Hart Breek se countryklank, het Demi Lee verduidelik: “Ek is mal oor country en wil dit graag in my Afrikaanse musiek ook deurbring.” Hierdie besluit weerspieël haar passie vir die genre en haar vasberadenheid om dit deel te maak van die Afrikaanse musiekkultuur.
Die lirieke van Net Myne is geskryf deur die gesoute liedjieskrywer Johan Oberholzer en vervaardig deur Demi Lee se man, Barthlo Visagie. “Ek hou van die liedjie want ek hou van die liefde, veral as mens weet jy het ‘net joune’ gevind. Hoe lekker is dit nie? Ek noem dit my langpad-liefde liedjie. Hy gaan lekker wees vir die lang pad, maar weerspieël ook die lang pad van liefde,” het Demi Lee verduidelik. Sy beskryf die liedjie as ’n huldeblyk aan die tipe liefde wat, ongeag die lewenspad, steeds sterker word.
Demi Lee hoop dat luisteraars die liefde in die liedjie sal voel en dat diegene wat nie self sulke liefde ervaar nie, sal begin verlang na hierdie tipe onbreekbare band.
Die musiekvideo vir Net Myne is deur Eric Graham en Tehan Buys verfilm in ’n pragtige kothuis in Magoebaskloof. “Dit is basies die storie van twee mense, wat weg is op ’n romantiese naweek, wat mekaar, asook die klein oomblikke, vasvang deur ’n ou lens. Die mooi in die eenvoudige dinge van die lewe. Amper asof mens die mooi in jou ander helfde meer moet uitlig en raaksien,” het Demi Lee verduidelik.
Kyk die musiekvideo hier:
Die koor van die liedjie dra ’n sterk boodskap: “Sal jy net myne wees, Ek vra jou mooi al het ons alreeds. Baklei, Gestry, Vermy. Weer opgemaak. So sal jy? Sal jy net myne wees?”
“Dit is nie noodwendig baklei soos mens sou dink nie,” verduidelik Demi Lee. “Vir my is dit baklei vir mekaar. Stry met die dinge wat die lewe jou kant toe gooi, die dinge vermy waarvoor jy bang is. As jy saam al hierdie dinge doen kan jy net sterker en meer lief wees. Kies mekaar bo alles.”
Met ’n loopbaan gevul met verskeie hoogtepunte, staan die Afrikaans is Groot-konsert steeds kop-en-skouers bo die res uit vir Demi Lee. “Afrikaans is Groot elke jaar is natuurlik heel bo aan my lys – om betrokke te wees by so ’n produksie is ’n groot voorreg,” het sy afgesluit.
Net Myne is nou beskikbaar op alle digitale stroomdienste soos Apple Music, Spotify, Deezer en YouTube Music. Hierdie nuwe snit beloof om nog ’n treffer te wees wat die harte van Demi Lee se aanhangers sal verower en nuwe hoogtes vir haar musiekloopbaan sal bereik.