Die veelbekroonde sanger en liedjieskrywer, Stefan Jansen, bederf sy lojale aanhangers met ’n splinternuwe enkelsnit, getiteld Bella (Episode 1). Hierdie liedjie bied ’n diep, emosionele verhaal oor geloof en volharding, geïnspireer deur die lewe van ’n jong vrou genaamd Bella.
Bella, die hoofkarakter in hierdie roerende verhaal, is die dogter van ’n dominee genaamd oom Proppie. Stefan deel dat oom Proppie ’n beduidende rol gespeel het in Bella se geloofsreis. “Oom Proppie het altyd op Bella se bed gesit toe sy jonk was en vir haar vertel hoe sy nie moet twyfel in God nie.” verduidelik Stefan. Hierdie vermanings het Bella diep geraak en haar geloof gevorm. Volgens Stefan het oom Proppie vir Bella verduidelik dat geloof nie noodwendig gebaseer is op bewyse nie, maar eerder op vertroue. “Daar is nie noodwendig bewyse nie, maar jy moet glo,” sê Stefan.
Bella het hierdie boodskap ter harte geneem en reeds vroeg in haar lewe besluit om te glo sonder om vrae te vra. Hierdie geloofsbenadering het vir haar vrugte afgewerp, en elke keer wanneer die lewe haar uitgedaag het, het sy ervaar hoe die Here haar veiligheid en sekuriteit bied. Stefan vertel: “Bella het net vroeg in haar lewe besluit sy gaan glo en nie vrae vra nie. En dit het vir haar baie goed uitgewerk want elke keer wanneer die lewe haar uitgedaag het, het die Here vir Bella gewys wat dit is om veilig te wees.”
Stefan Jansen, wat glo dat musiek opreg en eerlik moet wees, gebruik sy liedjies om sy siening van die wêreld te deel. Hy het grootgeword in Bronkhorstspruit en sy liefde vir betekenisvolle akoestiese musiek het hom gevorm tot die kunstenaar wat hy vandag is. Hy noem dat hy groot bewondering het vir internasionale musiektitane soos Foo Fighters, Elton John, Paul Simon, Bob Dylan, Leonard Cohen, Joshua Kadison, Foy Vance en Freddy Mercury. Plaaslik bewonder hy kunstenaars soos Laurika Rauch, Hunter Kennedy, Valiant Swart en Danie du Toit (Spoegwolf), en hy hoop om eendag saam met hulle te werk. Stefan som sy musieksmaak op as organies, eg en eerlik, met ’n sterk fokus op lirieke, alhoewel hy soms net na die musiek self luister en dit waardeer.
LEES OOK: 30 Blitsvrae vir Stefan Jansen
Sedert sy debuut in 2020 met die snit Verdienste en Genade, het Stefan voortgegaan om luisteraars te bekoor met treffers soos Suikerbos en As Ek Jou Onthou. In 2022 het hy sy kortspeler Katryn vrygestel, gevolg deur sy eerste Engelse kortspeler Wasting Time verlede jaar.
Nou kan aanhangers die betowerende storie van Bella (Episode 1) ervaar op stroomdienste soos Apple Music, Spotify en Deezer. Hierdie lied is ’n verdere bewys van Stefan se vermoë om diep en betekenisvolle musiek te skep wat die harte van sy luisteraars raak.
Luister die liedjie hier: