David Fourie het sy professionele verskyning as sanger gemaak toe hy in 2002 die eindronde van die gewilde Idols Suid-Afrika gehaal het. Sedertdien het hy ’n blywende indruk gemaak in die Afrikaanse musiekbedryf met treffers soos Ek wil jou ken, Land in die suide, Kaboemielies, Hou my vas, stywer vas, en sy mees onlangse nommer een treffer, On the Radio.
Kort voor sy pa se afsterwe in 2016, het hy David aangemoedig met die woorde: “Kom terug, ons mense mis jou.” Hierdie wyse raad het die sanger aangespoor om terug te keer na sy musiekwortels en sy pa se inspirasie het gelei tot die skepping van die geliefde liedjie Kaboemielies. Ná ’n stilte van agt jaar in sy loopbaan, het David Fourie teruggekeer na die verhoog en die Afrikaanse musiektoneel met sy nuutste projek, Die Dans Ding.
Volgens David is sy nuwe musiek nie net ’n lekker Afrikaanse popliedjie nie, maar ook ’n uitnodiging om die lewe te vier, ten spyte van neerslae, siektes en enige uitdagings wat ons beleef. “As jy net vreeslik lekker kan dans net soos wat jy is, voel dit asof dit jou oplig, bo aardse probleme uit, en dit gee jou nuwe lus vir die lewe. Na alles wat in die laaste vyf jaar in ons wêreld gebeur het, is daar geen beter geneesmiddel as om te dans met simbale en alles wat jy het nie,” het David gesê.
David het tydens sy verblyf in Nieu-Seeland betrokke geraak by die organisasie StarJam, waar hy vir kinders met verskeie fisiese en verstandelike uitdagings klasgegee het in sang en dans. Hierdie ervaring het sy benadering tot musiek verander. “Ek het met hulle gewerk soos ‘normale’ kinders en hulle uitgedaag om hulle beste te lewer deur musiek. Dit was ’n wonderlike ervaring wat selfs die nuus gehaal het,” het David gesê.
Terug in Suid-Afrika werk hy nou saam met kinders by die Imibala Trust, wat sosio-ekonomiese uitdagings beleef. Hierdie kinders oorkom hul sorge deur dans en musiek, en sommige is nou op pad om oorsee op te tree. Al hierdie ervaringe het David se benadering tot sy eie musiek en sy doel in die musiekindustrie verander. Hy skryf en skep nou musiek vanuit hierdie perspektief.
Die Dans Ding is ’n merkwaardige vertoning van David Fourie se evolusie as Afrikaanse popster en skrywer. Dit is vervaardig deur mede-skrywer Fred Den Hartog van Die Heuwels Fantasties. Die verwerking van die liedjie is organies en knipoog na aanhangers van Afrikaanse dansmusiek. David toon sy dank aan sy getroue ondersteuners en verwelkom ook ’n nuwe generasie musiekliefhebbers met ’n vars openbaring van sy hart.
In die musiekvideo nooi David sy gehoor – alledaagse mense, ons mense – om saam met hom te dans en die lewe te vier. Die video weerspieël mense van alle lewenswandel, insluitend vriende, bure, vreemdelinge, en selfs TikTokers. Dit skep ’n gevoel van bevryding vir individue wat hul eie uitdagings ervaar, hetsy fisies, sosio-ekonomies, of kultureel. Dit verander natuurlik in ’n groot danspartytjie met David aan die voorpunt, want Die Dans Ding is ’n “ding wat begin en dit sluk jou in.”
Kyk die musiekvideo hier:
Stroom Die Dans Ding en kom dans saam met David Fourie en sy gemeenskap van musiekliefhebbers.