Hy is bekend en geliefd as sanger, akteur, aanbieder, grimeerkunstenaar en fotograaf, maar nou is Willem Botha terug met ’n splinternuwe enkelsnit – 2010 (Twintig Tien).
Veelsydigheid is Willem se middelnaam, maar musiek bly sy passie. Hierdie enkelsnit is sy eerste vrystelling sedert sy album, ’n Liefde Soos Die, wat net voor die Covid-inperking uitgereik is waarvan die titelsnit saam met Tarryn Lamb ’n reuse sukses was.
LEES OOK: Nuwe Willem Botha-album ’n samestelling van gewilde treffers, nuwe musiek
2010 is ’n vars, energieke liedjie geskryf deur Willem, Hugo Ludik en Nick Jordaan van Muse Produksies. Dit is die perfekte sokkie kuier liedjie wat nostalgies terugkyk na treffers wat teen 2010 groot was. Met treffers soos Hokaai Stop Die Lorrie, Kaptein, Baby Tjoklits en meer, het 2010 ’n koor wat jou dadelik sal wil laat opstaan en dans.
Die musiekvideo vir 2010 is vervaardig deur die talentvolle Gerduan Kemp en spog met ’n ensemble van bekendes insluitend sangeres – Karlien van Jaarsveld, aktrise – Reandi Grey van Diepe Waters-faam, Mej. Supranational 2021 – Chanique Rabe asook Katja Pieters van Op My Eish! Die video is opgeneem buite Pretoria en beloof om breë glimlagte te ontlok en jou voete behoorlik te laat jeuk om te dans.
Kyk die musiekvideo hier:
Met sy ongelooflike sukses met sy grimeerreeks, Willem Botha Beauty, het Willem die afgelope twee jaar sy fokus daarop gesit. Maar nou is die tyd weer daar vir musiek, en sy aanhangers kan nie wag om die nuwe enkelsnit te hoor nie.
2010 is ’n ligte, plesierige partytjie liedjie en ’n absolute moet vir enige naweek speellys. Kry die enkelsnit nou op digitale stroomdienste soos Apple Music, Spotify, Deezer en YouTube Music.