Yolandie is ’n ligte klassieke sangeres wat gebore is in die Jakaranda Stad – Pretoria. Sy het haar voorliefde vir musiek ontdek deur haar pa se kitaarlesse wat sy op ’n nege jarige ouderdom ontvang het. Van daar het sy aanhou sing en van kindsbeen af elke verhoog geleentheid aangegryp.
Yolandie se kortspeel album, Shades of Time, is einde 2023 uitgereik en het treffers bevat soos, Sonneblom uit Bethlehem (met Derick Scholtz), Listen To The Ocean (met Kobus Prinsloo), Tell Him (met Karen Olivier), Time To Say Goodbye (met Gert Hartzenberg) en ’n spesiale bonus snit, Vivo Per Lei (met Kevin Leo).
Kort op die hakke, en na die sukses van Shades of Time, het sy besluit om ’n splinternuwe oorspronklike enkelsnit vry te stel getiteld, Morné se Lied. Hierdie lied is spesiaal opgedra aan haar kitaarspeler met dieselfde naam, en sy musikale vingers is duidelik hoorbaar op hierdie snit.
Sean Butler die bekende musiek vervaardiger wat met kunstenaars soos Nianell, Romanz, Elizma Theron, Kurt Darren en menigte ander bekendes gewerk het, verklaar dat dit n groot voorreg was om betrokke te wees by Yolandie se nuutste enkelsnit. Butler verklaar, “20 jaar gelede, het ek Yolandie ontmoet as ‘n talentvolle sopraan wat n baie bekende deksnit van Mike Batt se lied Caravans vrygestel het. Sy het op daardie stadium getoer met André Schwartz. Dus, was dit so n groot voorreg om die geleentheid te kry om 25 jaar later ’n lied vir Yolandie te kon vervaardig met die titel, Morné se Lied.”
Die spesiale lied is deur Sandra Esterhuizen (Nest) geskryf en het werklik lewe begin kry in die ateljee. Beide Morné Viljoen (oor wie die lied gekomponeer is) en Yolandie, het hulle unieke talente bygevoeg by die vervaardiging van die lied.
Morné Viljoen verklaar dat alhoewel die lied al 20 jaar gelede geskryf is voel dit asof dit spesiaal vir hom geskryf was. Viljoen het Yolandie glo by ’n groot opvoering ontmoet en deur die repetisies het die twee n vriendskap ontwikkel. Dit is toe ‘n groot toevalligheid dat Yolandie ’n lied in haar skatkis bêre wat soveel ooreenkomstighede met hom het.
Hy meen, “Yolandie het die lirieke vir my gestuur en ek kon nie glo dat die lied al meer as twintig jaar terug geskryf was nie en my so akkuraat beskryf het nie. Dis toe dat die lied vir haar betekenis gekry het, omdat sy dit nou met iemand kon verbind.” Viljoen verklap verder dat dit dalk nie bewustelik was nie, maar dat die lied tog sy eie storie vertel.
Butler praat met groot lof van hoe die twee kunstenaars as kitaarspeler en sangeres mekaar komplimenteer. Hy meen , “Morné wat sy wonderlike kitaar vernuf bygevoeg het tot die snit, sowel as Yolandie se strelende suiwer stem, is genoeg om enige luisteraar in vervoering te hê en te inspireer.”
Luister die liedjie hier:
Die grootste les wat die musiek bedryf vir Yolandie geleer het is; “Bly altyd nederig en onthou waar jy vandaan kom. Een oomblik is jy bo, die volgende oomblik dalk onder “en dan bowenal “be true to yourself”.
Yolandie se wonderlike stem en musiek beloof om baie te bekoor en die duet album sal ’n mens weer nostalgies maak, oor die goeie musiek en stemme van destyds. “Morné Se Lied” beloof om net so suksesvol te wees soos haar voriges en behoort baie hartsnare te roer. Yolandie se hart en siel is so mooi vasgevang in die vertolking van hierdie lied.
