Klop uit die hemel is ʼn kragtige nuwe Afrikaanse snit uit die pen van Robert Bolton, en gaan oor die diepste vrae wat agterbly wanneer ʼn verhouding tot ʼn einde kom.
Robert, wat al sy liedjies self skryf, is geïnspireer om Klop uit die hemel neer te pen deur die seer wat hy ervaar het met die beëindiging van die verhouding en die afsluiting waarna ʼn mens hunker as gevolg daarvan.
“Wanneer ʼn verhouding op die rotse loop, is daar altyd onbeantwoorde vrae waarvoor ʼn mens nie noodwendig antwoorde kan kry nie en mens kry ook nie altyd die geleentheid om die vrae te vra nie. Ek vra dié vrae dan nou net in ʼn liedjie,” verduidelik Robert.
“Dit gaan ook oor die lig en hoop wat ek telkens vir ons verhouding kon sien wanneer ek haar weer raakloop, maar ons verhouding het sy gang natuurlik gegaan en ons het albei besef dinge kan nie nou uitwerk tussen ons nie.”
Volgens die sanger is Klop uit die hemel so na aan sy hart en spreek dit so eg tot sy ware gevoelens, dat hy skoon emosioneel raak wanneer hy dit op die verhoog moet uitvoer.
Luister die liedjie hier:
Robert glo luisteraars sal aanklank vind by die lirieke, aangesien soveel mense dieselfde liefdeservaring as hy deel. “Ek sal aanhou veg vir liefde en waarin ek glo. So ek gaan nog musiek skryf oor die liefde, hartseer en vele meer.”
Robert is ook tans besig om homself as professionele paramedikus te bekwaam, maar beplan om deurlopend in die musiekbedryf te woeker met nuwe snitte.
Robert het onlangs getref met sy pop-punk snitte, “Dans in Afrikaans” en “Vlieg te naby aan die son”. Hy het sy debuut gemaak met die liedjie “Toy Train”.
“Ek is van plan om nog musiek uit te bring. Deur die gebroke hart, het ek baie spesiale musiek geskryf en sien uit daarna om dit te deel.”
Meer oor die kunstenaar:
Musiek het nog altyd ʼn integrale rol in Robert Conradie, oftewel Robert Bolton, se lewe gespeel en leef hy van kleins af vir die musiek- en dramawêreld.
Robert het op sesjarige ouderdom begin klavier speel en sing. Hy het sy vroeë jare in Vredendal deurgebring voordat sy gesin na Stellenbosch verhuis het.
Robert het sy musikale reis voortgesit en terwyl hy sy skoolopleiding voltooi het. Die sanger is bekend vir sy veelsydige musiekstyl, maar blink uit in rock, soul en blues.
Hy woon tans in Kaapstad saam met sy jonger suster. Robert het ná matriek aanvanklik geregistreer om BEmC (Bachelor in Emergency Medical Care) te studeer. Sy stokperdjies sluit abseiling, kransspring, voetslaan, bergfietsry en branderplankry in.
Wanneer hy na musiek luister, is Robert mal oor Gospel Blues en sielmusiek, maar hy is ook ‘n groot aanhanger van alternatiewe rock en ballades.
Hy is lief vir die natuur en geniet dit om oor diere, voëls en plante te leer en te gesels.
Robert kry musikale inspirasie van plaaslike en internasionale musikante soos Lewis Capaldi, Kaleo, Justin Bieber, Francois van Coke, en Spoegwolf.